NewsSchools

Ram-skaakspanne maak die regte skuiwe

Ram se skaakspanne het uitgeblink toe hulle die gasheer was vir die Super Reeks-toernooi.

Dit is duidelik dat Laerskool Randfontein se skaakspelers die sport ernstig opneem. Hulle beleef tot dusver ‘n uitstaande 2018.

Die Super Reeks-skaaktoernooi was die eerste een en is op Vrydag, 4 Mei by die skool aangebied.

Waldo Greyling, Henk Nolan en Christiaan Nolan is baie opgewonde oor die skool se nuwe skaakstel. Foto: Jaco-Mari Futcher

“Dit is ‘n groot voorreg om die gasheerskool van hierdie spoggeleentheid te kon wees. Tien skole het deelgeneem en Ram se spanne het uitgeblink,” het Annie Nolan, Ram-woordvoerder gesê.

Die o.9-span het gewen terwyl die o.11’s en o.13’s tweede plekke in hul afdelings behaal het. Ram is aangewys as die algehele wenner van die Skaaktoernooi vir 2018.

“Tydens die plaaslike Skoleliga het Ram se skaakspanne weereens hul staal gewys,” het Annie gesê.

Vyf spanne het daaraan deelgeneem en die volgende prestasies behaal: die o.9-eerstespan het die eerste plek behaal, die o.9-tweedespan was in die tweede plek, die o.11-span het eerste plek behaal, die o.13-dogterspan het ook eerste plek behaal en die o.13-seunspan was derde.

“Die vier spanne wat eerste en tweede plekke behaal het, het aan die D2-finale deelgeneem wat by Curro Krugersdorp gehou is,” het sy gesê.

Ram spog vanjaar met sewe skaakspelers wat inidivdueel hul D2-kleure verwerf het.

“Ons is baie trots op Magdaleen Ernst, Mikayla Croukamp, Christiaan Nolan, TJ Joubert, Carmi Kruger, Leila Snyman en Waldo Kruger. Leila, Carmi en Waldo het op Vrydag 25 Mei 2018 aan die Gauteng Individuele Kampioenskappe by die Voortrekkermonument deelgeneem. Dankie dat julle Ram se naam met jul pragtige prestasie hoog gehou het,” het Annie gesê.

In spanverband het Ram se o.9- en o.13-dogterspanne tydens die D2-finaal op Saterdag, 21 Julie puik gevaar. Albei het tweede geëindig en dus gekwalifiseer om op 8 September aan die Gauteng Kampioenskappe deel te neem.

Die volgende spelers van die o.9- en o.13-dogterspanne het in spanverband hul D2-kleure verwerf: Christiaan Nolan, Magdaleen Ernst, Zane Esterhuizen, AJ Joubert, TJ Joubert, Mikayla Croukamp, Carmi Kruger, Anri Graaff, Leila Snyman, Jana Martins, Janke van den Heever en Christel Graaff.

Ram-ouers het ’n groot skaakstel aan die skool geskenk en die skaakspelers is opgewonde om dié stel te gebruik.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button