Local sportSport

Klein superster steel harte oorsee

Sewejarige Laerskool Randfontein-leerder het onlangs met vier trofeë van die Talent America-talentkompetisie af teruggekeer.

Shaylin Potgieter is net sewe jaar oud, maar sy ken haar storie op die verhoog.

Dié leerling van Laerskool Randfontein het onlangs met vier trofeë van die Talent America-talentkompetisie teruggekeer. Sy was die jongste in haar span. Sy het die trofeë vir die Pinnacle Award vir die hoogste punte, Divisional Winner in haar afdeling, eerste plek vir sang en eerste plek vir drama gekry.

Volgens haar ma, Liezel Potgieter het dié kompetisie in New York plaasgevind en sy het Team South Africa verteenwoordig.

“Behalwe dat sy twee eerste plekke en twee spesiale toekennings gekry het, was die werkswinkels saam met bekende stem- en drama-afrigters ’n hoogtepunt vir Shaylin,” het Liezel gesê.

Shaylin het al aan baie plaaslike talentkompetisies deelgeneem en spog met ’n hele paar toekennings op haar kerfstok.

“Toe sy Graad R by die Rosemarie Kahn Kleuterskool was, het sy aan die Raca Kunstefees deelgeneem. Ek het haar ingeskryf vir drama net om ‘n bietjie selfvertroue te kry. Haar musiekjuffrou het gesê sy moet inskryf vir sang ook. Ek het nooit geweet dat sy dié talent het nie en sy het, tot ons verbasing, Diamanttoekennings vir albei inskrywings gekry,” het sy gesê.

Die volgende kompetisie was Talent Africa en Shaylin het weereens vir sang en drama ingeskryf. Sy het Goud en ’n spesiale toekenning vir sang gekry. Deelnemers moet Goud kry om te kwalifiseer vir Talent America.

“Toe sy hoor sy het Goud gekry, was daar ‘n onbeskryflike vreugde op haar gesiggie,” het Liezel trots gesê.

Shaylin het ook die geleentheid gehad om by die Arnold Classic by die Sandton-konferensiesentrum as gaskunstenaar op te tree.

“Sy het ’n twee baie goeie afrigters in Randfontein. Rina van Jaarsveld by Rosemarie Kahn Kleuterskool het haar met die sang gehelp en Christa Botha het haar gehelp met dramalesse,” het Liezel gesê. Bondgallery en Martinet Theunissen is borge. Shawn Ashcroft het gehelp met die afronding van haar sang en drama.

Wanneer Shaylin nie op die verhoog besig is om harte te steel nie, speel sy graag pop of ontwikkel haar ander talente.

“Sy het ’n vierjarige boetie, Bihan, wat haar baie besig hou. Sy is ’n regte dogtertjie en sy speel gereeld met haar poppe en doen altyd pligsgetrou haar huiswerk. Sy hou van skryf, fietsry en sy speel graag netbal,” het Liezel bygevoeg.

Shaylin het baie ondersteuning van borge ontvang. Home Finders Property Group, Dykes and Nel Attorneys, Evolution Vape, Eden Estates, Paw Print Properties, Dynamic Bridging, U Bridge, Mbizi Game Logde & Spa, Umoya Game Lodge, Barnyard en Golfdag-ondersteuners, ALoe Signs en individue se bydraes het dit vir Shaylin moontlik gemaak om haar drome te volg.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button