Local newsNews

Veronica Cronje: Dié vrou inspireer!

Ma van drie wat 'n gru-ongeluk oorleef het en 'n passievolle atleet is 'n inspirasie vir ander.

Veronica Cronje, 39, het nie net ‘n hart van goud nie, maar raak daagliks mense se harte deur haar beroep en persoonlikheid.

Die Herald het onlangs aan Veronica se voordeur gaan klop om meer oor haar uit te vind en vas te stel waarom sy so gewild is in die gemeenskap.

Veronica is getroud en die trotse ma van drie tieners. Sy het ‘n groot liefde vir mense en help altyd waar sy kan. Sy streef daarna om ‘n inspirasie vir ander te wees en glo daar is altyd ‘n manier om te oorwin.

“Almal val die een of ander tyd in ‘n groot gat en soms kan ons nie kop bo water hou nie. Dit gebeur met almal, maar mens is sterk genoeg om alles te oorwin,” het Veronica gesê.

In 2013 het Veronica ‘n laagtepunt in haar lewe bereik toe sy in ‘n ongeluk betrokke was waarin twee van haar vriendinne gesterf het. Alhoewel sy bykans geen beserings opgedoen het nie, het dit vir haar soos die einde van haar lewe gevoel.

“Dit het gevoel of alles uitmekaar geval het. Ek het soveel vrae gehad en ek was baie negatief en depressief. Dit was vir my moeite om positief te probeer wees. Ek kon dit nie verstaan nie, want ek hou van die lewe. En al daardie emosies en gevoelens oor trauma … ,” het Veronica gesê.

Veronica glo dat almal die een of ander tyd trauma beleef en dat sommiges dan op ‘n hopie gaan sit en hulself bejammer. Haar vraag is: Watter inspirasie is jy dan vir ander?

Na haar trauma het sy besluit om ‘n sielkundige te gaan spreek wat haar gemotiveer het om ook pastorale sielkunde te studeer om so ander te help. Sy glo dat haar werk as haarkapper daagliks ander mense inspireer en laat goed voel.

Veronica het nog ‘n passie – sy het in 2010 begin draf. Die volgende jaar het sy aan haar eerste groot padwedloop deelgeneem toe sy die Comrades-marathon voltooi het. Die jaar daarna het sy haar tyd vir dié uitmergelende wedloop met meer as ‘n uur verbeter. Sy draf ongeveer 10km per dag en glo dat ‘n gesonde liggaam ‘n gesonde gees huisves. Haar grootste droom is om eendag aan die Twee Oseane-marathon deel te neem.

“Jy kan op enige ouderdom begin draf. By die Comrades sien jy deelnemers van alle ouderdomme en van die ouer mense stof jou selfs uit,” het Veronica gesê.

Die volgende woorde lê haar besonder na aan die hart: “Om ‘n oorwinnaar te wees, moet jy na jou gees, siel en liggaam omsien”.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button