Local newsNews

Oktober is Troeteldier-obesiteitsmaand

Raai wat is die grootste gesondheidskwessie by troeteldiere. Obesiteit!

Het jy geweet? Obesiteit het net so ’n groot probleem by diere as by mense geraak.

Suid-Afrikaanse veeartse sê meer as die helfte van die diere wat hulle behandel is oorgewig, wat die situasie in Amerika en Europa weerspieël. Wêreldwyd is obesiteit die grootste gesondheidsprobleem wat honde en katte in die gesig staar.

Mollig moet nie met mooi verwar word nie. Deur jou diere te oorvoer, troetel jy hulle waarskynlik dood. Navorsing het duidelik getoon dat oorgewig troeteldiere korter lewe en ’n hoër risiko vir siektes soos artritis, urinêre toestande, velprobleme, hartsiekte en selfs kanker het. Risiko’s tydens narkose en operasies is ook groter. ’n Studie in 2012 het getoon dat vet honde nie vrolik is nie – hulle ervaar meer pyn en “emosionele stoornisse”.

“Oortollige gewig plaas druk op die gewrigte en ons sien dus baie heup-, rug- en knieprobleme,” sê suster Norma Boshoff, wat ’n suksesvolle gewigbestuurskliniek by die Tygerberg-dierehopitaal in Bellville bedryf.

“Baie van ons pasiënte moet chronies pynmedikasie gebruik omdat hulle oorgewig is. Obesiteit by troeteldiere is ’n menslike siekte, en word gewoonlik veroorsaak deur mense wat die liefste vir hulle is,” sê dr. Guy Fyvie, veterinêre raadgewer vir Hill’s Pet Nutrition South Africa.

“Dit is bloot ’n geval van te veel energie, m.a.w. kos, wat ingeneem word en te min energie wat verbrand word deur oefening en ’n stadige metabolisme.”

Hoe weet jy of jou troeteldier oorgewig is? In een studie het nege uit tien eienaars verkeerdelik gedink hulle troeteldiere se gewig is normaal terwyl die diere in werklikheid meer geweeg het as wat goed was vir hulle. “Mense weet nie meer hoe ’n dier met ’n gesonde gewig lyk nie,” sê dr. Fyvie.

“My man het dikwels gesê Eddie is vet, maar ek het gesê “nee, hy is net effe mollig,” sê Hanlie Joubert van Bellville, wie se beagle klinies obees was toe hy by die Tygerberg-dierehospitaal se troeteldierverslankingsprogram aangesluit het. “Ek het hom bloot gevoer waarvoor hy lus was en het geensins aan die gesondheidsimplikasies gedink nie.”

’n Troeteldier by sy optimum gewig behoort ’n sigbare middellyf te hê en jy behoort sy ribbes te kan voel as jy sagkens langs sy lyf streel. As jy nie die ribbes kan voel nie, vriende grappe maak oor jou mollige troeteldier of jy oplet dat hy sukkel om by te hou tydens stappies, is dit tyd om na jou veearts te gaan vir ’n gewigsbepaling.

“Dit is moeilik om objektief te wees oor diegene vir wie ons lief is,” sê dr. Fyvie. “Wanneer jy elke dag jou troeteldier sien, is geleidelike veranderinge nie so opvallend nie. Dit is raadsaam om ’n professionele opinie in te win.”

Oktober is Nasionale Troeteldier-obesiteitsmaand en baie veeartse regdeur die land sal gratis gewigsbepalings doen. Eerder as om jou troeteldier die gevaar van vetverwante siektes te laat loop, wees lief genoeg vir hom om hom vinnig te laat weeg. Vra jou veearts, of spoor ’n deelnemende #PetObesityMonth-praktyk op by www.PetSlimmer.co.za.

“Om jou troeteldier ’n eetdingetjie te gee, is nie dieselfde as om liefde of aandag te gee nie; dit is bloot ’n versnapering,” sê suster Boshoff.

“Dit is beter om met ’n bal te speel, hulle vir ’n stappie te neem, of hulle ’n soentjie en ’n drukkie te gee. Hulle floreer op sulke positiewe interaksie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button