Local newsNews

Man tree af na dekades by spoorweë

Ambagsman van Homelake bêre finaal sy gereedskapkis na meer as vier dekades by die spoorweë.

Soos ‘n rugbyspeler sy stewels ophang het Dawid Dippenaar, 59, onlangs besluit om sy slyper en gereedskapkis na baie dekades te bêre.

Dawid het 41 jaar lank vir Transnet Engineering in Germiston gewerk.

Hy het vertel dat verskeie faktore ‘n rol gespeel het in sy besluit om af te tree.

“Dit was lekker en ek het dit wat ek gedoen het baie geniet, maar ek kan nie meer nie,” het Dawid gesê.

Volgens hom het dit al hoe gevaarliker geraak om werk toe en terug te pendel. Hy moes in die vroeë oggendure ‘n trein haal van Homelake- na Johannesburg- en uiteindelik tot by Germiston-stasie en saans weer al die pad terug. Soms moes hy drie weke lank met sy eie motor werk toe ry weens stakings of protesaksie, en was skrikkerig dat hy dalk eendag self uit ‘n trein gegooi gaan word. Hy was al ‘n teiken van misdadigers toe hy van sy selfoon beroof is. Die ‘taai’ werk wat hy doen plaas ‘n stremming op sy liggaam en hy het al ‘n nekoperasie ondergaan, hy het byna ‘n hele ‘n vinger verloor en die punt van sy een duim het nie meer been in nie.

Maar daardie dae is gelukkig nou verby en Dawid sien uit na al die takies en werkies by sy huis in Homelake.

“Ek wil besig bly want as jy stilsit gaan jy dood.”

Die toekenning wat Dawid ontvang het.

Dawid het vertel hoe hy verder aan die braai wat hy gebou het gaan werk, hy wil die lapa opkikker, nog teëls in en om die huis lê, bome afsaag en gras sny. Hy is ook gewillig om vir ander mense nutsman te wees en byvoorbeeld ‘n stukkende deur of ‘n krakende dak herstel, of selfs bouwerk doen.

Wat hy wel gaan mis is die vriende wat hy gemaak en goeie tye wat hulle saam beleef het.

Dawid beskryf homself as wild, hardkoppig, iemand wat gou op sy perdjie spring en kort van draad. Hy het vertel dat hy 10 persent van sy grootwordjare op ‘n plaas in Magaliesburg deurgebring het, en 90 persent daarvan in Krugersdorp nadat sy ouers soontoe getrek het. Hy woon reeds meer as 30 jaar in Randfontein.

Sy dogter het in ‘n brief aan die Herald vir haar pa gesê: “Geluk pa. Na 41 jaar by Transwerk kan jy nou rustig word. Jy was altyd trots op jou werk en het goeie diens gelewer. Pa moet nou elke dag geniet en alles doen wat jy altyd wou doen.” – Mariska.

Sy loopbaan in ‘n neutedop:

• As 17-jarige het hy as dieselassistentdrywer by Spoornet in Braamfontein begin werk. Hy’t dit gedoen vir vier jaar.

• Daarna is hy weermag toe en het vir twee jaar diensplig gedoen.

• Na die weermag is hy oorgeplaas Germiston toe en het sy ambag binne drie maande voltooi – iets wat gewoonlik vier jaar duur.

• Direk nadat hy sy ambagtoets geslaag het, het hy amptelik as ambagsman begin werk en later die postitel van master wagon fitter (tegniese ambagsman) gekry

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button