Local newsNews

‘Gesinsgeweld beslis ‘n realiteit in R’fontein’

Kenner praat oor die tragiese realiteit van gesinsgeweld in Randfontein en hoe jy kan help.

Gesinsgeweld is ‘n tragiese realiteit in Randfontein en ‘n sosiale probleem wat meer aandag moet kry.

So glo Ivan Kortje. Hy is die uitvoerende direkteur en stigterslid van die Riet Family Guidance Centre in Uitvalfontein en ‘n slagofferbemagtigingskenner vir die niewinsgewende organisasie, die nasionale Riet Victim Support South Africa. Tydens ‘n onderhoud met Kortje wou hy die gemeenskap attent maak op die belangrikheid van emosionele ondersteuning vir vroue en kinders wat slagoffers van geweld is.

Kortje het vertel dat hy al in Kanada en die VSA was om sy kennis oor Riet Victim Support South Africa te verbreed. Hy is ook baie betrokke by die takke in Kaapstad. Die Herald was verbaas toe hy gesê het dat die Riet Family Guidance Centre die grootste skuiling in Gauteng is vir slagoffers van misdaad op alle vlakke.

Misdaadslagoffers word beskryf as mense wat individueel of as ‘n groep onder leed gebuk gegaan het, insluitend fisieke en emosionele skade, emosionele lyding, ekonomiese verlies of skending van hulle fundamentele regte deur dade of versuim wat in stryd is met die strafreg.

“Die atmosfeer by ons skuiling is dié van rustigheid en dit bied ook ‘n lekker, veilige plek vir die kinders. Dit is ‘n positiewe, bevorderlike omgewing vir slagoffers,” het Kortje vertel.

Die slagoffers wat na die sentrum toe kom, kan van drie tot ses maande gratis daar bly. Die sentrum kan 45 vroue en 30 kinders huisves. Hulle is ook geregistreer om kinders in te neem.

Ivan Kortje van die Riet Family Guidance Centre in Uitvalfontein.

Kortje het gesê die howe en polisie bied nie die nodige emosionele ondersteuning aan slagoffers van geweld nie. Baie keer, as die slagoffer ‘n saak wil open, byvoorbeeld om ‘n interdik teen iemand te kry, word die slagoffer soos die skuldige behandel. Volgens hom moet die howe en polisie leer hoe om simpatie aan slagoffers te betoon.

Een van die grootste probleme is dat as slagoffers ‘n saak teen ‘n beskuldige open, hulle dit gewoonlik later terugtrek. Dit bevestig wat kaptein Appel Ernst, Randfontein-polisiewoordvoerder vroeër vir die Herald vertel het.

Kortje glo die redes waarom slagoffers hul saak terugtrek, is gewoonlik deel van ‘n bose kringloop. Die beskuldigde belowe die slagoffer byvoorbeeld dat dit [die geweld] “nie weer sal gebeur nie”.

In sommige gevalle word die slagoffers met geweld gedreig om die saak terug te trek.

Aangesien finansiële staatshulp aan die skuiling onttrek is, is hulle besig om die stryd te verloor. Kortje het nog ‘n paar slagoffers daar, maar hy kan op die oomblik geen slagoffers inneem nie, want daar is geen fondse nie. Kortje het verduidelik dat die Randfontein-gemeenskap kan saamstaan om die organisasie weer op te bou.

“Ons het die Connie Mulder Sentrum en Wawa-groep in Toekomsrus, maar dié skuiling wat desperate vroue en kinders broodnodig het, staan op die oomblik stil,” het Kortje gesê.

Kortje versoek Randfontein se inwoners en besighede om betrokke te raak en te help waar hulle kan.

“Kos, klere, rusbanke, yskaste, donasies, vroueprodukte, babaprodukte – enigiets is welkom. As inwoners wil inspring om fisies daar te help, of self kennis het van geweld teen vroue en kinders, is hulle by die sentrum welkom.”

Kortje daag ook besighede uit om iets vir die gemeenskap te doen deur ‘n helpende hand na hulle toe uit te steek.

• Navrae: Kontak Ivan by 083 400 1630 of die Herald by 011 693 3671.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Related Articles

Back to top button