Local newsNews

Kersfees kom vanjaar ‘n bietjie vroeër

Vriendskaptuiste het vir R'fontein 'n voorsmakie van Kersfees 'n maand voor die tyd gegee.

Vriendskaptuiste het hul jaarlikse Kersmark gehou en dit was beslis iets om oor huis toe te skryf.

Die Kersmark is op Saterdag, 26 November in die Tuiste se Jimmy Kitching Saal gehou.

Jacobus Mans besig om aan 'n skildery te werk by die Kersmark.
Jacobus Mans besig om aan ‘n skildery te werk by die Kersmark.

By die ingang is besoekers en inwoners begroet deur die reuk van braaivleis en varsgebakte wafels.

Die hele saal was vol Kersversierings en die stalletjies was van hoek tot kant volgepak.

Dit het gelyk asof die doel van die Kersmark eintlik was om te sien wie se stalletjie die beste gelyk het, want elke tafel se goedere was mooi uitgestal. Sommige tafels het selfs temas gehad wat aangesluit het by die produkte wat hulle verkoop het.

Anushka Nel, Betsie Nel en Martie Colyn by hul stalletjie.
Anushka Nel, Betsie Nel en Martie Colyn by hul stalletjie.

Enigiets van juwele tot skilderye was te koop. Die meeste van die items, indien nie alles nie, was handgemaak en dit was duidelik dat dit baie ure geverg het om die spesiale goedere vir die mark gereed te kry.

Een van die spesiaalste stalletjies was die een met Jacobus Mans se skilderye. Jacobus is ‘n gestremde lid van Randfontein se Kunsvereniging en sy medelede het hom gehelp om sy werke uit te stal. Volgens Paul Roosenschoon van die vereniging was dit Jacobus se eerste uitstalling.

Beatrix Hooman het leerdagboeke verkoop wat sy met die hand gemaak het.
Beatrix Hooman het leerdagboeke verkoop wat sy met die hand gemaak het.

Jacobus is ‘n kwadrupleeg en verf meesterstukke met sy mond. Sy werk verskyn gewoonlik op almanakke en kaartjies. Vir die Kersmark het hy van sy ander werk uitgestal en het selfs by die mark nuwes vanuit sy rolstoel begin verf.

Die dag was ‘n sukses en dit lyk al klaar asof die stalletjiehouers nie kan wag vir die volgende Kersmark nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button