Local newsNews

Bejaardes nog dol oor sport

'G'n oumenskwaal kan my weghou van so 'n lekker oefensessie nie.'

Meer as 30 lede van die West Rand Retired Teachers Association het op Woensdag, 10 Augustus by die Greenhills Sportstadion bymekaargekom vir hul jaarlikse oefensessie.

Die lede, sommiges so oud as 80, het onder andere aan aërobiese oefeninge, sokker en netbal deelgeneem.

Hulle het eers hul spiere warm gemaak deur vier keer om die sokkerveld te stap om seker te maak alles is mooi los. Die oud-onnies is toe in drie groepe ingedeel en elkeen het ‘n sokkerbal ontvang.

Deelnemers wou nog op ‘n ernstige noot die hand-oog-koördinasie-oefeninge aanpak toe Adelaide Methola die bal mis skop en plat op die grond beland. ‘n Doodse stilte het eers oor die sokkerveld geheers maar toe Adelaide uitbars van die lag, het die ander ook begin lag en sommer heeltemal van die oefeninge vergeet. Adelaide het so gelag dat niemand haar kon ophelp nie. Sy het ‘n kort rukkie gesit en lag, en toe opgestaan en die gras van haar probeer afskud.

Daarna het die oefeninge speels voortgeduur. Die aërobiese oefeninge het ook glad verloop en lede het hard probeer om tussen die lag deur soveel as moontlik te beweeg.

Zachariah Lekgatle, voorsitter van die assosiasie het gesê die geleentheid is gereël juis sodat lede mekaar se geselskap kon geniet.

“Ons wil hê die lede moet soveel moontlik uit hul huise kom en met mense van dieselfde ouderdom saamkuier,” het Zachariah gesê.

Na die oefensessie het susters van ‘n plaaslike kliniek gratis gesondheidstoetse op die bejaarde lede gedoen. Hulle het onder andere cholesterol-, bloedsuiker- en ystervlakke, asook bloeddruk getoets.

“Ek is nog perdfris en gesond,” het Agnes Msimango gesê.

“G’n oumenskwaal kan my weghou van so ‘n lekker oefensessie nie.”

Die assosiasie beoog om volgende jaar die oefensessies kwartaalliks aan te bied sodat lede hul ‘vriende’ meer gereeld kan sien.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button