Local newsNewsUpdateBreaking News

VIDEO: Die graf-raaisel ontvou

‘n Begraafplaas, soortgelyk aan die Buitefontein Begraafplaas, is ook in Venterspos ontdek.

Die weggesteekte begraafplaas tussen Kocksoord en Middelvlei waaroor die Herald onlangs berig het, is geïdentifiseer as die Buitefontein Begraafplaas.

So sê mense wat al baie lank in die omgewing woon.

Blykbaar was die begraafplaas deel van Kocksoord toe dit glo nog deel van Krugersdorp en nie Randfontein was nie. Kocksoord het glo bestaan lank voor Randfontein gestig is en is nou blykbaar die oudste deel van die dorp.

Volgens Frik Saunders, 78, is sy vroegste herinneringe aan die begraafplaas toe hy ‘n agtjarige seuntjie was.

Saunders was in Laerskool Kocksoord voordat dit Laerskool Avanté geword het. Die skool was in die Kocksoord Museum-gebou en dit was die enigste saal in die omgewing. Daarom is al die dorp se begrafnisdienste in die museum of skool gehou.

Saunders sê as skoolkind moes hulle eenkant gestaan het tydens ‘n begrafnis. Volgens Deon de Beer, 76, het skoolkinders soms saam begraafplaas toe gegaan.

De Beer het vertel hy het sy oupa se teraardebestelling in die Buitefontein Begraafplaas bygewoon en hy onthou swart mense het op dieselfde tyd ook daar begrafnis gehou. Volgens hom was daar ‘n begraafplaas vir swart mense aan die suidekant.

“Wat interessant is, is dat ons die grafte met grond toegegooi het, terwyl dié mense klippe in hulle grafte gegooi het,” het hy gesê.

Vroeër jare is swart en wit apart begrawe, maar die Herald het die graf van ‘n swart meisie van sewe jaar aan die buitewyke van die begraafplaas saam met die ‘wit grafte’ ontdek.

In die Buitefontein Begraafplaas is daar baie kindergrafte. Volgens Saunders is dit as gevolg van die witseerkeelepidemie terwyl De Beer gesê het dit was as gevolg van die Groot Griep.

Die begraafplaas het vervalle geraak en het nie eers ‘n hek nie. Dit is onbekend hoekom dit in so ‘n swak toestand is. Saunders het vertel die begraafplaas het ongeveer 50 jaar gelede al begin agteruitgaan.

Hans Sithole, een van die verbygangers wat die begraafplaas ontdek het, is besig om 'n grafsteen wat omgeval het, terug te sit.
Hans Sithole, een van die verbygangers wat die begraafplaas ontdek het, is besig om ‘n grafsteen wat omgeval het, terug te sit.

In die Herald se ondersoek onder die leiding van Gerhard Kruger is ‘n ander begraafplaas in Venterspos (op foto) soortgelyk aan Buitefontein ontdek.

Hierdie grafte is veel ouer as Buitefontein s’n en dateer uit die 19de eeu. Die grafstene is vervalle.

Die grafte wat in Venterspos ontdek is, is maar ‘n handjievol; daar is ongeveer 10 grafte wat nog duidelik uitkenbaar is. Naby hierdie begraafplaas is daar ‘n vervalle wit gebou. ‘n Paar kilometer verder is glo nog grafte.

Enigiemand met meer inligting oor die Buitefontein Begraafplaas of die begraafplaas in Venterspos word versoek om die Herald by 011 693 3671 (kantoorure) of 073 596 0753 (na ure) te skakel. Gerhard Kruger kan ook gekontak word by 083 233 4234.

 

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook:

Hidden graveyard discovered

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button