Local newsNews

Hou op gemors stort en brand

'Dit is onooglik en ‘n gesondheidsrisiko vir my pa en die kinders'.

Toekomsrus — ‘n Asma-lyer en inwoner, 61, van Olifantstraat in Toekomsrus het sy stem dik gemaak oor die gemors in die veld langs sy huis wat gereeld gebrand word.

Corrie Rooskrans beweer die rook van die brandende gemors maak hom so siek dat hy gereeld hospitaal toe moet gaan vir suurstofbehandeling.

Ten spyte van die No Dumping-bord by die veld word daar steeds onwettig vullis gestrooi.

“Die probleem is die gemors wat die mense onwettig daar strooi. Ek glo nie dit is mense in ons straat nie, maar inwoners van ‘n paar strate verder soos Diamantstraat gooi definitief hul gemors hier,” het Corrie se seun, Tyrone verduidelik.

Volgens die Rooskrans-familie het inwoners van Toekomsrus soms nie ‘n ander opsie as om hul gemors daar te gooi nie omdat die munisipaliteit soms tot drie weke neem om hul rommel te kom verwyder.

“Na drie weke is die gemors vrot en mense dink hulle doen goed deur dit te brand maar dit brand nie, dit smeul en rook net meeste van die tyd,” het Corrie gesê.

Hulle meen die Gemeenskapwerkprogram (GWP) in die area help ook nie veel nie.

“Hulle sal die gemors op ‘n hoop bymekaar maak en dan ook brand, wat my pa se gesondheid verder benadeel,” het Tyrone gesê.

“Ons wil die mense in ons area vra om nie hul gemors hier te gooi nie. Ons vra ook die munisipaliteit om die gemors wat reeds hier is asseblief te kom verwyder. Dit is onooglik en ‘n gesondheidsrisiko vir my pa en die kinders wat tussen die gebreekte bottels en vuilgoed speel,” pleit Tyrone.

Related Articles

Back to top button