Local newsNews

Goeie nuus oor Tristan na swembadongeluk

'Hy is tans in ‘n rolstoel, maar kan al regop sit'.

‘n Driejarige peuter vorder fluks nadat hy verlede jaar in ‘n swembad beland en amper verdrink het.

Tristan Sellwig van Greenhills in Randfontein is eintlik een van die gelukkiges, want volgens navorsing is die kans op oorlewing vir drenkelinge baie skraal.

Volgens die jongste bevindings wat deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) bekend gemaak is, is verdrinking een van die grootste oorsake van sterftes onder kinders tussen een en vier jaar oud.

Tristan is verlede jaar in November gered nadat hy in sy ouma Lynette Minnie se swembad in Krugersdorp beland het.

Sy het hom op die bodem sien lê en dadelik om hulp geroep.

Die tuinier het in die swembad gespring en hom uitgehaal waarna Minnie en Tristan se tannie mond-tot-mond-asemhaling toegepas het.

Paramedici het hom dadelik aan ‘n ventilator gekoppel en gevorderde lewensondersteuning toegepas voordat hy per helikopter na die Netcare Garden City Kliniek vervoer is.

Nadat sy toestand verbeter het, is hy na die Netcare Rehabilitasiehospitaal in Auckland Park oorgeplaas.

“Dit gaan baie goed met hom, want selfs die tragiepyp waardeur hy tot onlangs toe asemgehaal het, is verwyder, “ verduidelik sy ma Chantal.

Die WGO verduidelik dat drenkelinge meestal nie oorleef nie. Oorlewing word gewoonlik bepaal deur twee hoogs veranderlike faktore, naamlik hoe vinnig die persoon uit die water gehaal is en ook hoe vinnig behoorlike resussitasie gedoen is.

Alhoewel Tristan nog jonk is en moontlik breinskade opgedoen het, bestaan die moontlikheid dat hy kan herstel soos hy ouer word en ontwikkel.

“Daar is net ‘n baie beter kans op herstel omdat hy nog jonk is,” het Chantal gesê.

Op die oomblik ontvang hy fisioterapie by die rehabilitasiehospitaal en selfs daar is die dokters so in hulle skik met sy vordering dat hy nog vinniger ontslaan sal kan word as wat verwag is.

Chantal, wat tydelik haar werk moes prysgee om daagliks vir nagenoeg ses uur by haar kind te wees, het gesê hulle hoop dat die senubane tussen sy brein en die res van sy lyfie binnekort sal herstel.

“Hy is tans in ‘n rolstoel, maar kan al regop sit. As ons hom buite toe vat, beweeg sy ogies rond; daar maak hy geluide en huil kliphard.

Tristan was soos enige ander kind mal daaroor om buite te speel, ‘n bal saam met sy sesjarige boetie Paulie rond te skop en met die honde te speel.

“Ons spook elke dag hard met die fisioterapie wat hy ontvang om sy spiere en sintuie te laat herstel sodat hy weer eendag al hierdie dinge waarvan hy hou sal kan geniet.

“Paulie en sy boetie is baie geheg aan mekaar en hy vind dit moeilik om te verstaan waarom Tristan nie met hom kan kommunikeer nie.”

Die herald sal in die volgende paar weke ‘n rits artikels publiseer wat met verdrinking te doen het asook Tristan se vordering deurentyd dophou.

Tristan Sellwig se ouers Paul en Chantal en hulle ander seun Paulie onthou die gelukkige tye voor die ongeluk.
Tristan Sellwig se ouers Paul en Chantal en hulle ander seun Paulie onthou die gelukkige tye voor die ongeluk.

Related Articles

 
Back to top button