CrimeLocal newsNews

Bejaarde paartjie aangeval, aangehou vir twee ure

'Hulle het die pistool teen my kop gedruk en op my man geskreeu om die pin vir hulle te gee. Daarna het hulle my vasgebind'

‘n Bejaarde paartjie in Westonaria waardeer mekaar en hul familie nog meer nadat rowers hulle onlangs (Vrydag 21 November) vir twee uur lank met vuurwapens aangehou het.

Mike, 59, en Magda, 58, van Uitbreiding 8 in Westonaria was soos elke ander oggend vroeg wakker.

“Ek moes weet iets is verkeerd, want ons worshond het vreeslik te kere gegaan en geblaf om uit te gaan,” het Mike gesê.

Magda het toe opgestaan en die hond by die afgeskorte agterplaas laat uitgaan.

“Ek het reggemaak vir werk en toe het Mike soos altyd vir my die voorste veiligheidshek oopgesluit sodat ek my goedjies in my kar kan pak om te ry,” het sy vertel.

Volgens hulle het een man agter die motor verskyn en ‘n ander om die draai buite die deur.

“Hulle het pette opgehad en hulle gesigte was met sakdoeke toegebind. Hulle het ‘n 9mm-pistool teen Magda se kop gedruk en gesê: ‘Walk and don’t look at us’. Ons is toe in ons kamer ingeboender en moes verskriklike rassistiese opmerkings aanhoor. Hulle het Magda baie hard geslaan en sy het met ‘n harde slag aan die ander kant van die bed op die vloer beland,” het Mike ontsteld vertel.

Die twee rowers het toe Mike se voete en hande aan mekaar vasgebind terwyl hulle Magda gedwing het om hulle bankkaarte en selfone te oorhandig.

“Hulle het die pistool teen my kop gedruk en op my man geskreeu om die pin vir hulle te gee. Daarna het hulle my vasgebind. Een man was die heeltyd by ons in die kamer terwyl die ander doenig was in ons huis,” het Magda met trane in haar oë gesê.

Die rowers het alles uit die kaste gepluk en elektroniese toestelle en juwele begin uitdra. Hulle het die huis so ver as wat hulle gegaan het gefynkam en selfs voorskrifmedikasie van Mike voor hom op die vloer uitgegooi en stukkend getrap.

“Hulle het aanhoudend gesê dat een van ons vandag gaan vrek as ons nie al ons geld en gewere en goed gee nie. Die een het ook bly dreig dat hy Magda gaan verkrag. Ek het so magteloos gevoel,” het Mike vertel.

Intussen het die altyd stiptelike Magda se kollegas begin bekommerd raak toe sy nie opdaag nie en het haar ‘n paar keer op haar sel- en huisfoon geskakel. Toe Magda se werkgewer nie antwoord kon kry nie het hy van Carletonville deurgejaag na hulle huis toe om te kyk wat aangaan.

Volgens die bejaarde paartjie het Magda se werkgewer twee uur na die nagmerrie by die huis gestop en toe hy agter omloop na hulle kamervenster toe het die rowers by die agterdeur uitgeglip.

Terwyl die rowers binne besig was het ‘n derde man glo buite die huis in ‘n swart VW Golf met getinte vensters gewag. Bouers oorkant die pad het die voertuig gesien en onraad begin vermoed. Nog ‘n dame wat ook naby die paartjie bly, het glo ook die Golf gesien en haar sekuriteitsmaatskappy, Boz Security geskakel.

“Dit was asof almal gelyk hier gestop het en binne oomblikke was ons huis omring deur polisie, veiligheidswagte, bure en kollegas. Ek weet regtig nie wat van ons sou word as almal nie so flink opgetree het nie,” het ‘n bewoë Magda vertel.

“Ek wil mense waarsku. Moenie dink dat dit nooit met jou sal gebeur nie. Wees wakker en maak seker dat jou huis veilig is. Ek glo ons is nog hier deur die genade van ons Liewe Vader en die fantastiese mense om ons wat ons so mooi oppas,” het Mike nederig na die voorval gesê.

Hulle bedank die Westonaria Polisie, Boz Security en al hul bure vir hulle flink optrede gedurende die roof. Die herald het Westonaria se polisie geskakel om bevestiging te kry na gerugte dat die bestuurder van die Golf in hegtenis geneem is, maar daar was teen druktyd nog nie konkrete inligting beskikbaar nie.

Mike wys waar die een rowers gestaan en wag het by hulle voordeur. Die ander verdagte het agter hulle motor weggekryp.
Mike wys waar die een rowers gestaan en wag het by hulle voordeur. Die ander verdagte het agter hulle motor weggekryp.

Related Articles

Back to top button