Local newsNews

Randfontein se eie Dr. Dolittle

'Diere is nou maar net in my bloed' — Adellé.

Adellé von Ronge Kotze het ‘n passie vir diere, skilder en skryf.

Adellé is in Johannesburg gebore maar is al meer as 30 jaar lank ‘n inwoner van Randfontein.

“Ek het al by die poskantoor en toe in boekwinkels gewerk, maar ek het eers my roeping gevind toe dr Naudé van die Randfontein Dierehospitaal my genader het vir ‘n pos by hulle,” het Adellé gesê.

“Diere is maar net in my bloed.”

Sy het ‘n natuurlike aanleg om met hulle te werk en daar is nie ‘n diertjie wat Adellé nie kan regmaak nie,” het Anneline van Zyl, haar vyfjaarlange kollega gesê.

“Adellé is regtig soos Randfontein se eie Dr. Dolittle en almal weet al om siek en beseerde diertjies na haar toe te vat,” het sy bygevoeg.

Dit is hierdie groot liefde vir diere wat Adellé se hart sag gemaak het vir ‘n pasgebore babakatjie wat ‘n kliënt in die veld opgetel het.

“Hy was pas gebore en ek het nie gedink hy sou dit verby daai eerste paar dae maak nie. Met baie liefde en botteltjies melk het ek hom groot gekry en nou is Genis soos een van my eie kinders. Ek dink partykeer hy dink hy is ‘n mens. Hy is veral versot op my man, Johan en die tweetjies kan ure lank gesels en speel,” het Adellé laggend vertel.

In haar vrye tyd skilder Adellé graag en het al ‘n paar van haar portrette verkoop. Daar is ook van haar werke op die dierehospitaal se mure – natuurlik van diere. Dié talent het sy by haar pa geërf, wat ook volgens haar met ‘n kwas op ‘n doek kon toor.

Adellé het haar eerste boek klaar geskryf en is baie opgewonde omdat dit nou aan die paneel by NB Uitgewers en Publishing World SA voorgelê word.

Dit is ‘n romantiese avontuurverhaal met ‘n Christelike grondslag en boodskap, het sy verduidlik.

“Ek het klaar ‘n idee vir die volgende boek en dit gaan ook weer ‘n avontuurverhaal wees met Yeti’s en Diamantsmokkelaars in Rusland,” het sy opgewonde vertel.

“Ek is lief vir skilder en geniet skryf maar my werk is my alles. Dit is elke dag ‘n nuwe uitdaging vir my,” het Adellé gesê.

Related Articles

Back to top button