Local newsNews

Kankerlyertjie merk sy wenslysie af

'n Graad 1-leerling van Laerskool Dr Havinga kon nie meer skool bywoon nie nadat hy met Hodgkin's Limfoom gediagnoseer is.

‘n Funksie met Afrikaanse sanger Bok van Blerk as gaskunstenaar is gehou sodat ‘n jong kankerpasiënt nog ‘n item op sy wenslysie kon afmerk.

Nico Flowers, ‘n Graad 1-leerling van Laerskool Dr Havinga in Witpoortjie kon nie meer skool bywoon nie omdat sy gesondheid drasties verswak het.

Hy is op 24 Februarie vanjaar met Hodgkin’s Limfoom gediagnoseer wat tans in die Vlak 4-fase is nadat dit na sy kliere, longe, maag en beenmurg versprei het. By die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg het hy reeds chemoterapie ontvang en vir die volgende paar weke gaan hy bestraling kry.

Meer as R80 000 is onlangs tydens ‘n funksie by Mount Usambara ingesamel. Dit is gereël deur Graincare, ‘n niewinsgewende liefdadigheidsorganisasie van Randfontein wat uit drie maatskappye Unigrain, Grain Carriers en Grain Logistics bestaan.

Mariaan le Roux van Graincare sê hulle is deur Nico se Graad 1-onderwyseres genader en het toe gevoel dat hulle hom en sy gesin sal kan bystaan. Sy ouers pendel daagliks tussen Randfontein en Johannesburg om by hulle seun te wees.

Altesaam 340 mense het die funksie bygewoon. Hulle het hulle harte en sakke vir Nico oopgemaak sodat daar vir sy mediese onkostes en die gesin se petrolonkostes betaal kan word, maar ook dat sy wenslysie vervolmaak kan word.

Op dié wenslysie is onder andere legkaarte, inkleurboeke, Lego-blokkies, mooi klere en tekkies.

Om Graincare se mikpunt te kon haal is verskeie items deur die afslaer Dawie van der Merwe opgeveil.

Le Roux sê die res van die geld wat ingesamel is gaan vir Graincare se ander liefdadigheidsprojekte gebruik word om gesinne in nood, kinderhuise en bejaardes finansieel help.

Related Articles

Back to top button