CrimeLocal newsNews

Keelvol en moedeloos na 17 inbrake

Man vertel hy het geen vertroue in die polisie nie en gaan eerder trek.

Tot hier toe en nie verder nie.

Vir die situasie waarin die Henning-gesin verkeer kan mens die bekende sanger Bok van Blerk aanhaal: “Dis tyd om te trek”.

Dit is te verstane, veral as daar 17 keer by jou ingebreek is en jy vir die skade en bykomende veiligheidsuitgawes meer as R50 000 moes opdok. As daar boonop by jou besigheidskompleks ingebreek word, is dinge rêrig nie meer snaaks nie.

Die man van die huis en besigheidsman Danie Henning, 64, het die herald tydens ‘n onderhoud vertel hoe moedeloos, ontsteld en keelvol hy is.

Hy vertel dat die Henning-gesin in 1983 in hulle huis ingetrek het. “Ek het destyds twee nuwe besighede in die dorp begin. Dinge was toe nog rustig; mens het tuis gevoel.”

Sewe jaar later in 1990 het die moeilikheid begin en tot en met 2014 is daar ‘n skokkende 17 keer by hom ingebreek.

Volgens Henning is dit moeilik om die veiligheidsuitgawes vir daardie tydperk te bereken maar hy skat dat dit hom meer as R50 000 uit die sak gejaag het. Sedert hy ingetrek het maak hy van sekuriteitsmaatskappye se dienste gebruik maar al het dit hom R72 000 oor die 31 jaar gekos, het dit duidelik nie gehelp nie. 

Henning sê dat tydens die meeste inbrake is vensters gebreek – nie die kleintjies nie maar die grotes. Die meeste van die inbrake het ook op ‘n werksdag plaasgevind. In slegs twee gevalle is die agterdeur met veiligheidshekke en al morsaf gebreek. Daar word gewoonlik TV- en hoëtroustelle, klere en juweliersware gesteel. ‘n Bromponie is ook al gesteel en sy woonwa is twee keer gestroop.

“Hulle hou mens dop en weet wanneer jy ry,” meen Henning.

“Vir ons 25ste huweliksherdenking het ons die oggend Magalies toe gery en toe ons terugkom het ons gesien dat daar ingebreek is. ‘n Ander keer was ons op pad Wildtuin toe maar ons moes terugdraai want daar was by ons ingebreek. ‘n Volgende keer het my vrou en skoonma die kinders gaan haal – ‘n rit van 10 minute van die huis af – en toe hulle terugkom, dieselfde storie.”

‘n Moedelose Henning het bygevoeg. “Soms het ons skaars kans gehad om dit wat gesteel is te vervang of te herstel wat beskadig is voordat daar weer by ons ingebreek is.”

Gevra hoe hy oor alles voel, sê Henning, “Dankie Vader ons is nooit iets aangedoen nie. Dit is baie ontstellend. Ons kan nie eers dinge aan die huis doen nie want geld word aan veiligheid bestee.

“Ja ons is geweldig geseënd dat ons niks oorkom tydens die inbrake nie maar misdaad is te hoog.”

Alhoewel daar al so dikwels by sy huis en besigheidskompleks ingebreek is, glo Henning dat dit nie hy en sy gesin is wat geteiken word nie, eerder die huis omdat dit ietwat afgesonder is en in ‘n baie stil buurt geleë is. Daar woon ook nie bure oorkant hom nie.

Hy voel egter sterk daaroor dat hy glad nie vertroue in die polisie het nie en eerder besluit het om te trek.

“Mens moet tog iewers die streep trek …”

Related Articles

One Comment

  1. I truley feel for Danie Henning ! One can neither live, manage a business, nor live in a crime ridden town such as Randfontein.

    Randfontein was once a vibrant, well managed town – a place where one could call home. Sadly, but factually, the town has seen steady decay over the past 20 years.
    It takes neither a genius, nor an Einstein, to note that the government of the day is failing its citizens.

    The Randfontein Municipality was always in the Herald for the right reasons 20 years back, however, today all one reads about is crime, violence and moral decay!

    Sad!!

Back to top button