Local newsNews

Trek aan daai sexy jeans van jou

Woord en Lig Christen Kerk hou 'n denimfees.

Dit het wel niks met die sanger Gerhard Steyn te doen nie maar om die lente te vier nooi Woord en Lig Christen Kerk die gemeenskap uit om saam met hulle hul eerste denimfees te kom geniet – of soos Steyn dit sou stel, “Trek aan daai sexy jeans van jou”.

Volgens ‘n verteenwoordiger van dié gemeente, pastoor Marthie Erasmus sal dié fees op 24 September by die Woord en Lig Christen Kerk se terrein in Robinaweg, Greenhills plaasvind.

“Ons is baie opgewonde oor die fees. Daar sal verskeie kompetisies tydens die dag plaasvind. Een van dié kompetisies is vir die persoon met die kreatiefste denim. So trek jou mooiste, oudste, of stukkendste denim aan en kom wen groot pryse,” vertel Erasmus.

Erasmus vertel verder dat daar kos- en koeldrankstalletjies na almal te smaak sal wees. So niemand hoef met ‘n droë keel of leë maag rond te loop nie.

“Om die feesgangers te vermaak, sal daar verskeie sang-, dans- en drama-items deur plaaslike talent aangebied word,” vertel Erasmus.

Sy vertel verder dat enigiemand wat op die verhoog wil verskyn en hul talent ten toon wil stel vir Letzi Lottering by 082 349 3969 moet skakel. Daar is nog talle staanplekke beskikbaar en uitstallers is welkom om ‘n stalletjie by dié fees te bespreek.

“Dié fees dien ook as ‘n fondsinsamelingsprojek vir ons gemeente en al die fondse wat ons so insamel sal gebruik word om verskeie liefdadigheidsprojekte te loods,” vertel Erasmus.

Aangesien dit ‘n familiefees is, sal daar ook talle speletjies en aktiwiteite vir die jongklomp wees. Daar is selfs ‘n motorskou vir die motorliefhebbers in die gemeenskap.

“Indien jy jou unieke motor by die fees wil uitstal, is jy welkom om my te kontak en jou plekkie op die terrein te bespreek,” vertel Erasmus.

Vir meer inligting, stalletjie- en- motoruitstalbesprekings skakel gerus vir Marthie Erasmus by 072 233 8471.

Related Articles

Back to top button