Local sportSportUpdate

Teine-eerstespan laat UJ sweet

Studente beperk tot slegs drie drieë terwyl die UJ-derdespan met 16-15 teen Teine vasval.

Dit was toe nie so maklik as wat hulle gedink het nie maar tog ‘n 21-0 oorwinning vir die Universiteit van Johannesburg (UJ) vir wie Mapogo Teine die afgelope Vrydagaand 11 Julie by die huis aangepak het.

Volgens Jacques Conradie, afrigter van Randfontein Rugbyklub se eerstespan (nou Mapogo Teine) was dit die beste vertoning dié seisoen.

Die halftydtelling was slegs 14-0 in UJ se guns met Teine wat die volle 80 minute goeie dissipline gehandhaaf het.

“Randfontein is weer besig om ‘n span te word waarmee daar in die toekoms rekening gehou moet word. Veral as mens in ag neem dat die gemiddelde ouderdom van die span slegs 23 jaar is, lyk die toekoms blink. Binne die volgende twee jaar kan hulle selfs vir die Gemeenskapsbeker kwalifiseer,” vertel Conradie.

Hy vertel verder dat UJ beslis nie verwag het dat Mapogo Teine so goed gaan vaar nie.

“Tydens verlede jaar se kragmeting het UJ binne die eerste 10 minute reeds hul bonuspuntdrie aangeteken, maar Vrydagaand kon hulle in die volle 80 minute dit nie regkry nie. Dit is beslis ‘n bewys van die vordering wat by die klub gemaak word,” vertel Conradie.

“Dit is moeilik om ‘n speler uit te sonder, maar die voorspelers het in die skrums die sterk pak voorspelers van UJ telkemale teruggeskrum en boonop vier van UJ se skrums gesteel.”

LJ van Heerden en Herman van Eck is gesamentlik as speler van die wedstryd aangewys.

“Die gemeenskap kan opreg trots wees op hierdie opkomende span. Die toekoms by Randfontein Rugbyklub lyk beslis rooskleurig as dié groep spelers behou kan word,” vertel Conradie.

Verder het die Randfontein-tweedespan ook teen UJ vasgeval en moes tevrede wees met ‘n 44-7 nederlaag.

“Alhoewel ons tweedespan die kragmeting verloor het, is hulle steeds in aanmerking vir ‘n plek in die halfeindstryd en werk hard om na hul nederlaag te verbeter,” vertel Conradie.

Die enigste span van Randfontein wat die manne van UJ kon klop, was die derdespan. Met puik spanwerk en deur elke geleentheid te gebruik het dié span UJ naelskraap met 16-5 geklop.

“‘n Wen teen UJ is altyd ‘n hoogtepunt vir die seisoen en gee my sommer ‘n warm gevoel in die hart. Baie geluk aan die derdespan, julle verdien dié oorwinning,” vertel Conradie.

Related Articles

Back to top button