Local newsNews

Oudisie nou en wees deel van ‘n Lefra produksie

Oudisies is nou oop vir Lefra Produksies se nuwe teaterstuk, My Boetie se Sussie se Ou. Wees deel van die oudisies en jy mag dalk 'n rol in dié produksie losslaan.

Lefra Produksies het sopas die regte bekom om Ray Cooney se baie snaakse klug, My Boetie se Sussie se Ou op te voer.

Met die regte in die hand, nooi Lefra Produksies alle aspirant-akeurs uit om vir rolle in dié produksie te oudisie.

Volgens een van die verteenwoordigers van Lefra Produksies, Charl Senekal, is die teaterstuk in Afrikaans vertaal en verwerk deur Pierre van Pletzen.

Frans Swart sal die regie van My Boetie se Sussie se Ou hanteer.

“Hierdie is natuurlik die opvolg op My Vrou se Man se Vrou,” sê regisseur Frans Swart.

“In My Vrou se Man se Vrou het John Smith twee vroue gehad.

“Nou het hy ‘n seun by die een vrou en ‘n dogter by die ander vrou.

“Tipies klug, raak dié twee kinders op mekaar verlief en John moet alles in sy vermoë doen om die boetie en sussie uitmekaar te hou.

“Die plot gee wonderlike materiaal vir komiese momente in ‘n uitstekende klug.”

Frans vertel ook dat hy hierdie klug beskou as een van die snaaksstes wat Ray Cooney ooit geskryf het.

Oudisies word op 16 en 17 Januarie 2014 vir die volgende karakters gehou. Barbara Smith (30-40 jarige vrou), Mary Smith (30-40 jarige vrou), John Smith (30-40 jarige man), Stanley Gardner (40-50 jarige man) en Stanley se Pa (65-75 jarige man).

Daar word ook tydens die geleentheid oudisies vir twee jong spelers gehou. Dié spelers is Gavin Smith (16-21 jarige seun) en Vicky Smith (16-21 jarige dogter).

“Indien die gekose spelers nog skoolgaande is, moet hulle en hul ouers bereid wees dat hulle gedurende skooltye toer,” vertel Frans.

Om vir die oudisies genooi te word, moet kandidate ‘n volledige CV met rolle vertolk en ‘n onlangse foto epos aan admin@lefra.com stuur.

Dit kan ook gefaks word na 011 362 5233.

Vir enige verdere inligting, skakel vir Charl Senekal by 011 815 3000.

Related Articles

Back to top button