EntertainmentLifestyle

Besige Bouwer Bosch boer voort

ROBINDALE - Humoristiese musikant en akteur wys sy dieper kant met nuwe enkelsnit.

Hy sit gemaklik en ontspanne, stylvol aangetrek met ‘n moderne baadjie om die koue, winter-weer te beveg. Bouwer Bosch, Afrikaanse sanger, akteur, TV-aanbieder en vervaardiger het onlangs sy nuutste enkelsnit en musiekvideo, Hopelik bekendgestel.

Bosch is in Pretoria gebore, maar het die grootste deel van sy lewe in Potchefstroom deurgebring waar hy op laerskool en op hoërskool was. “My groot droom was om ‘n professionele tennisspeler te wees en om Wimbledon toe te gaan. Ongelukkig het dit nooit uitgewerk nie, omdat Mc Donalds in Potch oopgemaak het,” spot Bosch.

Na skool het Bosch drie jaar diensjaar gedoen en daarna eers op die ouderdom van 22 by die Noordwes Universiteit as eerstejaar vir die Graad BA Kommunikasie geregistreer. Bosch het by die Duet-gemeente in Potchefstroom in die kerkorkes gespeel en is toe genader om in die groep, Straatligkinders, ‘n Christen rock-orkes as hoofsanger op te treë.

Bosch het ook later kragte saamgespan met Glaskas-sanger, Deon Meiring en die groep Dans Dans Lisa begin. “Dans Dans Lisa het baie ligte, no brainer, lekker luistermusiek,” het Bosch verduidelik.

In 2011 het Bosch sy eerste solo-album, Almal maak Voute (sic) voltooi. “Dit was ‘n bittersoet ervaring. Daar is net twee songs op daai album waarop ek regtig trots is.” Hy spot verder en sê soveel mense het vir hom gesê hy het ‘n spelfout op sy album gemaak. Bosch het sedertien sy lyf akteur gehou. Sy eerste akteurrol in Klein Karoo is ook waar hy sy vrou, aktrise Leandi du Randt ontmoet het. Die twee is op 28 November 2015 in Potchefstroom getroud en bly sedertdien in Robindale.

Bosch is tans besig met ‘n verkorte album wat vyf snitte op het, waarvan Hopelik die eerste is. “Dit het meer ‘n elektroniese klank en is nog glad nie iets wat ek gedoen het nie. Dit gaan oor weerloosheid in ‘n verhouding. Om weerloos te wees, is belangrik vir jou en die verhouding.”

Bosch noem ook dat hy in September ‘n nuwe rolprent, Sy klink soos Lente vrystel. Bosch noem dat hy nie self ‘n rol in die film het nie, maar meer verantwoordelik is vir die musiek en vervaardiging.

Dit is duidelik dat Bosch baie rolle vertolk as man vir Leandi, musikant met diep woorde, opkomende akteur en vervaardiger. “Ek sal myself beskryf as verstrooid, gedrewe en soekend.”

Verwante artikels:

Kahn Morbee discusses his future plans

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button