Vir Altyd – nog ‘n film op Afrikaans se kerfstok

JOHANNESBURG – 'Vir altyd is te min tyd om te leef saam met jou'. Die temalied deur Joshua na die reën som die film perfek op.

Resensie: Mari Rheeder

Genre: Romantiese komedie

Regisseur: Jaco Smit

Hoofrolle: Ivan Botha, Donalee Roberts, Elize Cawood, Wilson Dunster, Sans Moonsamy, André Stolz en ander

Punte: 7/10

Vrystelling: 12 Februarie

Ivan Botha en Donnalee Roberts is hierdie keer nie net akteurs nie, maar ook die ink in die pen agter die film Vir Altyd. Medevervaardiger Danie Bester en regisseur Jaco Smit span kragte saam om hierdie liefdesfilm aan Afrikaanse fliekgangers bekend te stel.

Ivan Botha en Donalee Roberts speel die hoofkarakters en is ook die skrywers van hierdie film. Foto verskaf.

Vir die romantiese verslaafdes is hierdie film perfek en vir die verliefde paartjies is hierdie film dalk ‘n geleentheid om ‘n ding of twee opnuut te besef. Vir die enkellopende kan hierdie film ‘n motivering of ‘n teleurstelling wees as hulle besef dat liefde soos in hierdie film dalk regtig net in ‘n film voorkom.

Sinopsis: Nina (Roberts) en Hugo (Botha) is beste maatjies van kindsbeen af. Na Hugo wegtrek en Nina alleen is, neem hierdie film ‘n onverwagte draai. Na ‘n eilandvakansie op Mauritius, saam met twee heeltemal uitlopende paartjies kom Nina tot ‘n groot besef. Die liefdespaadjie maak soms snaakse en onbeplande draaie met ‘n mens.

Die goeie: Hierdie film het ‘n dieper betekenis vir mense wat hulleself toelaat om dit te sien. Die akteursvaardighede is van baie hoë gehalte. Befaamde akteurs soos André Stolz, Elize Cawood en Wilson Dunster maak hierdie film uitstekend. Die eiland en die oord waar die film geskiet word, laat die kyker soms vergeet dat hulle na ‘n Suid-Afrikaanse film kyk. Goeie balans tussen komedie, met die skreeusnaakse Sans Moonsamy en hartseer, soos wat die liefde soms maar is. Die klankbaan is baie goed met ‘n verskeidenheid van musikante.

Die slegte: Die film is plek-plek soetsappig en voorspelbaar. Dit is dalk nie die tipe film wat jou kêrel, man of vriend saam met jou sal wil kyk nie. Die liefdestema word soms oorbodig.

Oordeel: As jy in die bui is vir ‘n liefdesbelaaide film met die wens om moontlik iets te leer oor jou eie situasie, is die film perfek. Alhoewel dit met tye ‘n clichè raak, maak hierdie film enige Afrikaanse kyker trots om Afrikaans te wees.

 

Exit mobile version