EntertainmentLifestyle

Bekende aktrise opgewonde oor nuwe film

LINDEN – Elize Cawood en haar man Wilson Dunster speel in die nuwe film 'Vir Altyd' wat in Februarie vrygestel word.

Die welbekende akteurspaar Elize Cawood en Wilson Dunster van Linden kan vanaf Februarie nog ‘n film op hulle kerfstok plaas. Cawood praat oor haar ervaring in die film, Vir Altyd wat op 12 Februarie by teaters begin draai.

“Die film is slegs in Mauritius geskiet, dit was ‘n vreeslike lekker ervaring. Die oord waar ons gebly het, was baie mooi,” vertel Cawood. Sy noem verder dat Donnalee Roberts en Ivan Botha baie goed gedoen het met die vervaardiging van hierdie film. Sy voel dat hierdie film selfs Pad na jou hart sal verbysteek. Cawood – wat meer as 30 jaar se ervaring het en wat bekend is vir rolle in films soos Die Wonderwerker, Liefling en Lien se lankstaanskoene – sê daar is geen verskil tussen films toe sy begin het en vandag se films nie. “Die tegnologie verskil wel.”

Meeste akteurs sal getuig dat Cawood en Dunster hulle al ‘n ding of twee geleer het oor die filmbedryf, maar Cawood noem dat sy elke dag iets nuuts leer by jong Suid-Afrikaanse akteurs. “Die jongmense het soveel entoesiasme, hulle is nie net akteurs nie, maar skrywers en vervaardigers ook,” sê sy. Cawood noem verder dat sy al sowat 10 jaar saam met haar man Wilson aan verhoogproduksies werk. Hierdie paar is veral bekend vir hulle rol in die verhoogproduksie, Dinner for one. “Dit is so lekker om weer saam met hom te speel in hierdie film, ons verstaan mekaar.”

Volgens Cawood het die Afrikaanse filmbedryf die laaste paar jaar ontplof. “Dit is wonderlik. Ons films veroorsaak kompetisie vir ander lande, veral op platforms soos die Silwerskerm-fees.”

Related Articles

Back to top button