NewsSchools

Linden blink uit in Wiskunde en Afrikaans

LINDEN – Die skool se 2016-matriekgroep presteer met sakkevol onderskeidings in Afrikaans en Wiskunde.

Met twee ere-toekennings vir die meeste onderskeidings vir Wiskunde en Afrikaans in 2016, het Hoërskool Linden nog ‘n rede om besonder trots te wees op hul leerlinge.

Die toekenning vanaf Solidariteit Helpende Hand se skoleondersteuningsentrum het die skool beloon vir die aantal onderskeidings wat deur 2016 se matriekulante behaal is. Die toekenning is net gemaak aan Afrikaans en dubbelmediumskole in Gauteng.

Leerlinge van Hoërskool Linden was onder die top elf skole in Gauteng met 26 onderskeidings in Wiskunde en 32 in Afrikaans.

Sewentig persent van Linden se 148 matrieks het Wiskunde gehad en ‘n kwart van die leerlinge het ‘n onderskeiding in die vak behaal.

Marietjie van Schaik , departementshoof Wiskunde, sê sy glo Hoërskool Linden slaag daarin slaag om groot belangstelling vir Wiskunde onder leerlinge te skep. Sy glo die onderwysers wat Wiksunde gee, is baie bekwaam.

“Ons is bevoorreg om mense met jare en jare se ervaring te hê,” het van Schaik gesê. “Dis altyd wonderlik om ‘n toekenning vir Wiskunde te kry. Dit is vir my ‘n weerspieëling van die passie van die kinders en die harde werk van die onderwysers.”

Susan Coetzee, departementshoof in Afrikaans, stem saam dat die toekenning die toegewydheid van onderwysers uitbeeld.

“Ons handhaaf ‘n baie hoë standaard. Die leerlinge het besef dat Afrikaans ‘n vak is waarvoor hulle moet leer,” vertel sy.

Coetzee glo dat Afrikaans baie belangrik is vir verdere ontwikkeling.

“As jy nie weet wat jy lees nie, verstaan jy dit nie en kan jy nie vrae daaroor beantwoord nie.”

Oor die toekoms van Afrikaans in Suid-Afrika is Coetzee baie positief.

“Van kombuistaal, soos Afrikaans bekend gestaan het in die begin van die eeu, het die taal ver gekom. Vandag word dit erken as ‘n wetenskaplike taal,” sê sy.

Solank daar mense is wat Afrikaans praat en ‘n liefde vir Afrikaans het, sal die taal oorleef, glo sy.

Hoërskool Linden het verlede jaar ‘n 100 persent slaagsyfer met 285 onderskeidings vir die Nasionale Senior Sertifikaat en Onafhanklike Eksamenraad vakke behaal. Altesame 85 persent van hierdie leerlinge het universiteitstoelating ontvang.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button