Local newsNewsSchools

Unika onthou geliefde skoolhoof

ROBINDALE - Die hartverskeurende gedenkdiens is deur leerlinge, personeel, Schaefer se twee seuns, Werner en Erwin, en sy vrou, Sonja, bygewoon.

Laerskool Unika se geliefde skoolhoof, Sieg Schaefer, wat op 8 Desember skielik oorlede is, laat inderdaad ‘n groot leemte – nie slegs waar hy skoolhoof vanaf 1994 was nie, maar ook in die gemeenskap wat op 14 Desember van hom afskeid geneem het.

Hy is kort voor sy dood met ‘n breingewas gediagnoseer en is geopereer. Hy was besig om te herstel en sou kort daarna met chemoterapie begin het toe hy skielik oorlede is, verduidelik Jan Bosman, die voorsitter van die beheerliggaam.

‘n Volgepakte Laerskool Unika skoolsaal het op 10 Januarie hulde aan Schaefer gebring en belowe om altyd die boeremaniere wat hulle geleer is, te eerbiedig.

Hoofseun Stefan Jacobs vertel dat Schaefer elke leerling uniek en spesiaal laat voel het. “Hy het ons boeremaniere geleer. Geleer om op te staan as die onderwyser in die klas instap of as jy aangespreek word. Mnr Schaefer het ons geleer om trots te wees op onsself en ons omgewing.”

Die hartverskeurende gedenkdiens is deur leerlinge, personeel, Schaefer se twee seuns, Werner en Erwin, en sy vrou, Sonja, bygewoon.

Die leemte wat die hoof agterlaat, het duidelik tydens die gedenkdiens geblyk. Van adjunkhoof en Schaeffer se ou vriend, Christo van Zyl, tot die voorsitter van die skool se beheerliggaam, Jan Bosman – elkeen het wondelike verhaal gehad om te deel.

Die skool met die hart van goud, soos Unika ook bekendstaan, onthou Sieg Schaeffer as ‘n positiewe man met ‘n positiewe boodskap wat altyd sport en kultuur aangemoedig het, maar eweneens ook die akademie opgehef het.

Bosman het by die gedenkdiens gesê die skool se nuwe lapa sal na Schaefer vernoem word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button