AfriForum eis regrukplan van J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit

Afriforum het verskeie items genoem tydens 'n hersieningsvergadering en vereis dat JB Marks Munisipaliteit hierdie items aanspreek.

AfriForum is uiters bekommerd oor die toestand van paaie, openbare terreine, rioolstelsels en ondoeltreffende bestuur van die vullisterrein in Potchefstroom. Die organisasie het hierdie en ander kwessies ingesluit in ‘n regrukplan wat hul vir Potchefstroom en Ventersdorp van die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit vereis. Potchefstroom en Ventersdorp het ‘n voorlegging aan die munisipaliteit tydens die jaarlikse hersiening van die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) gegee waarin hul aanbevelings aan die munisipaliteit maak om kwessies aan te spreek en op te los.

Hier is die kwessies wat in die betrokke AfriForum-takke se opinie dringend aandag nodig het:

Paaie: Die paaie is nie net vol slaggate nie, maar padtekens en padmerkers laat ook veel te wense oor. Hierdie kwessies hou ernstige gevare vir motoriste en voetgangers in.

Openbare terreine: Die instandhouding van parke, sypaadjies en padeilande word agterweë gelaat en vereis aandag.

Water: Die verouderde waterstelsel word nie onderhou nie en lei onder meer tot grootskaalse waterverlies weens lekkasies sowel as gedurige strukturele probleme soos gebarste waterpype.

Riolering: Die defektiewe pompe en blokkasies plaas geweldige druk op die rioleringstelsel en veroorsaak rioolstortings in strate en waterbronne soos riviere en strome.

Vullisterreine: Omdat die vullisterreine nie op standaard is nie, kom onwettige vullisstorting algemeen voor. Aanbevelings is gemaak vir die heraanstelling van die vorige vullisterreinkontrakteur in Potchefstroom.

Begraafplase: Begraafplase in dié munisipaliteit is dikwels in ’n gehawende toestand aangesien die terreine nie in stand gehou word nie. Dit is nie net onooglik nie, maar bied ook ’n veiligheidsrisiko vir die publiek.

Stormwater: Stormwaterdreinering word telkens belemmer weens verstoppings. Dit lei dikwels tot oorstromings van paaie en veroorsaak kommerwekkende skade.

Daar word jaarliks ’n deelnameproses binne alle munisipaliteite landwyd gevolg waar belanghebbende organisasies, soos AfriForum en die publiek aanbevelings kan doen vir dit waarvoor hulle glo die munisipaliteite in die volgende jaar moet begroot. AfriForumtakke landwyd neem ook aan die proses deel sodat lede se stemme gehoor kan word en druk op munisipaliteite geplaas kan word om dienslewering op te skerp. Die distrikskoördineerder van die Marico-distrik (waarbinne Ventersdorp val), Armand Viljoen, noem dat AfriForumtakke se deelname aan die GOP-proses noodsaaklik is. “Volgens bevindinge deur die ouditeur-generaal het die J.B. Marks-munisipaliteit in die 2021/2022-boekjaar R83,4 miljoen se vrugtelose en verkwiste uitgawes gehad, terwyl nagenoeg R3,2 miljard se onreëlmatige uitgawes aangeteken is. Dié vermorsing toon duidelik dat J.B. Marks se doen en late onder ’n vergrootglas geplaas moet word en dat gemeenskappe se insette in die begrotingsproses sowel as die monitering van spandering van kritieke belang is om die doeltreffende bestuur van hierdie munisipaliteit te help verseker,” verduidelik Viljoen. “Ons hoop dat die munisipaliteit gehoor sal gee aan die takke se aanbevelings vir die begroting, daarvoor sal begroot en die fondse sal gebruik vir die saak waarvoor dit begroot is. Ons verstaan dat die verval nie in een jaar reggeruk sal kan word nie, maar daar moet begin word daarmee, anders sal daar nooit vordering wees nie. AfriForum sal sy waghondfunksie nakom, die finale begroting monitor en, indien nodig, die munisipaliteit tot verantwoording roep daaroor,” sluit Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivierstreek (waarbinne Potchefstroom val), af.

Exit mobile version