Plaaslike taalpraktisyn kry Koker-toekenning vir bemagtiging deur Afrikaans

Johan Blaauw, direkteur van die Taaldirektoraat aan die Noordwes-Universiteit, is verlede Vrydag (20 November) met 'n Koker-toekenning vir sy bemagtiging deur Afrikaans bekroon. Hy gesels entoesiasties oor sy rol om meertaligheid aan die NWU te bevorder.

Om ‘n koker-toekenning van die Afrikaanse Taalraad te ontvang, is ‘n besonderse eer. Wenners van dié toekenning is yl gesaai en dit word net aan mense toegeken wat ‘n uitsonderlike bydrae tot die bevordering en beskerming van Afrikaans lewer.

In ons eie midde is Johan Blaauw, direkteur van die Taaldirektoraat aan die Noordwes-Universiteit, verlede Vrydag (20 November) met dié toekenning vir sy bemagtiging deur Afrikaans bekroon. Oor dié besondere eer wat hom te beurt geval het, is hy baie beskeie. “Ek voel baie geërd, maar ek het maar net my werk gedoen waarvoor ek aangestel is,” sê hy. Hy hou nie daarvan om oor homself te praat nie en gesels liewer oor sy rol om meertaligheid aan die NWU te bevorder.

Hy beywer hom nie net vir Afrikaans nie, maar wil ook Tswana en Suid-Sotho as akademiese tale bevorder. Met dié inklusiewe benadering word inheemse tale bevorder terwyl Afrikaans behou word. “Engels het ‘n staanplek in ons samelewing. Ons moet net keer dat die staanplek nie te groot word nie,” spot hy.

Vir Blaauw is dit belangrik dat studente moet besef wat die waarde van moedertaalonderrig is. “Jy bou op die fondament van jou moedertaal. Dis makliker om te konseptualiseer in jou eie taal en dan aan die einde na die Engelse terminologieë toe te werk,” sê hy.

Blaauw is ‘n ervare taalpraktisyn wat ondervinding as vertaler, teksversorger, tolk en taaladviseur het. Hy is sedert 2007 toenemend by die NWU se taalbeplanning en -bestuur betrokke. Hy het ‘n sleutelrol gespeel om die opvoedkundige tolkdiens aan die NWU op die been te bring, wat sodoende veeltalige onderrig op ‘n innoverende wyse moontlik gemaak het. Volgens die Afrikaanse Taalraad is dié opvoedkundige tolkdiens die grootste van sy soort ter wêreld.

Hy is nie alleen vir die bestuur van die tolkdiens verantwoordelik nie, maar doen ook navorsing oor meertaligheid en opvoedkundige tolking, en het nasionale en internasionale kongresreferate daaroor gelewer en gepubliseer.

Blaauw was ook by die ontwikkeling en hersiening van die 2007-, 2013- en 2018-weergawes van die NWU se taalbeleid betrokke. ‘n Uitgebreide taaloudit wat in 2018 deur die NWU-taaldirektoraat geïnisieer is, het tot die breër meertalige uitgangspunt van die huidige NWU se taalbeleid bygedra, wat in 2018 deur die NWU-raad goedgekeur is.

Hoewel sommige studente steeds bly veg vir uitsluitlik Engels, verseker Johan Afrikaanssprekendes Afrikaans sal behoue bly, omdat die NWU nie hulle taalaanbod wil verminder nie, maar uitbrei. “Ons beleid voeg eerder Setswana en Sesotho as onderrigtale by – alles ter wille van doeltreffende kennisontsluiting.

Ons staan egter nie in die weg van studente se aspirasies na Engels nie, maar fasiliteer eerder toegang tot Engels. Ons taalbeleid probeer nie net om almal se taalwêrelde byeen te bring en almal in hulle eie tale welkom te laat voel nie, maar ook om almal se taalaspirasies te vervul.”

nwu afr

Related Articles

 
Back to top button