Nuwe restaurant-kroeg langs N12

The Goose Pub and Grill is ‘n nuwe restaurant-kroeg wat in April langs die N12-hoofweg geopen het.

The Goose Pub and Grill is ‘n nuwe restaurant-kroeg wat in April langs die N12-hoofweg geopen het.

Ry jy Potchefstroom van Johannesburg se kant af binne, is die kroeg aan jou linkerkant, in ‘n stowwerige oopte langs die Alpha-kafee. Die klein gebou, wat ‘n mens van buite aan die ou cowboy-kroeë van ouds herinner, het ook vorige kroeë gehuisves – Windpomp, N12 en De Kroeg. Maar dié kroeg is heeltemal anders.
Besoekers kuier reeds van 11:00 af op die klein stoep in die sonnetjie en wanneer jy die gebou betree, skep dit die regte kuier- atmosfeer. Die grys mure en vloer is donker en intiem en kontrasteer mooi met die silwerblink sink wat halfpad teen die mure en kroeg aangebring is.
In die middel van die vloer staan ‘n pragtige groen snoekertafel met ligte wat daaroor hang. Die kroeg lei na ‘n volgende oopplan vertrek met houtbanke en stoele en ‘n groot wit skerm teen die muur.
Dit verklap dat daar elke Saterdag rugby gekyk word. Daar is selfs ‘n klein dansbaan om die oorwinnings van die sportwedstryde te vier. Vrydae en Saterdae word daar buite vuur in ‘n groot braaier gemaak en mense is welkom om hul eie vleisie saam te bring en daar te braai. Die restaurant doen ook spyseniering vir spesiale geleenthede.
“Ons het hard gewerk om hierdie gebou binne op te knap,” sê die bestuurder. Hulle doen ook moeite om spesiale aktiwiteite te reël wat so tipies van die kroegkultuur is. Elke Dinsdagaand om 19:00 word ‘n “Quiz-night” aangebied waar mense in spanne van twee tot ses verdeel om mekaar se algemene kennis te toets. Die wenners kry gewoonlik ‘n gratis drankie. Later in Augustus sal veerpyltjiewedstryde ook twee keer per week aangebied word.
Die kroeg spog met hul eie oorspronklike mengeldrankies wat dames graag bestel – Loosy Goosy, Gin Blossom en Tipsy Mango is die gunstelinge. En dan is daar ook Sunrise@theGoose wat ‘n regmakertjie is voor jy huis toe vertrek. Diegene wat shooters verkies, kan kies uit “Pink Happiness, Turkish Twist, Chocolate Death en Jelly Belly.
Volgens die bestuurder is dit die goedkoop pryse wat hulle van die ander kroeë onderskei.
Wanneer jy die spyskaart nader trek, kan jy nie glo dat ‘n mens vandag nog ‘n hamburger vir R35 kan koop nie en om R50 vir vier biere te betaal, is ook nie te versmaai nie.
Hierdie is beslis die ideale plek vir jou en jou “goose” as die geldjies skraps is.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version