Ikonografie in die post-moderne era

Plaaslike kunstenaars het vir die ikonografie kursus ingeskryf wat die Potchefstroom Kunsvereniging die aanbied. Hoewel die kursusgangers nie heeltemaal in die Middeleeuse konteks inpas nie, bied dié kunsvorm dieselfde uitdaging en saligheid wat die monnike eeue gelede ervaar het.

Ikonografie is ‘n kunsvorm wat in die Middeleeue in Europa en Asië beoefen is. Dit het ‘n sterk Christelike religieuse inslag en is gewoonlik ‘n portret van ‘n Heilige wat op ‘n houtblok geskilder is.

Die houtblok word noukeurig voorberei. Eers word ‘n geweefde doek met koue lym op die houtblok geplak. Daarna word ‘n mengsel van gips, koue lym en water bo-oor gesmeer. Wanneer die gipsmengsel hard en droog is, word dit fyn afgeskuur sodat dit ‘n gladde oppervlak vorm.

Dan word ‘n tekening van die ikoon gemaak, bladgoud word aangewend en daarna word dit geverf

Marna de Wet wys vir die kursusgangers hoe om bladgoud aan te wend.

Die verf wat die kunstenaars destyds gebruik het, het nie uit buisies gekom nie. Dit was tempera – ‘n mengsel van kleurpigment en eiergeel. Hierdie medium is baie moeilik om te gebruik, omdat ‘n klomp lae verf nodig is om die regte kleureffek te kry.

Die kunsvorm is gewoonlik deur monnike en kunstenaars beoefen wat baie tyd tot hulle beskikking gehad het. Die regte atmosfeer vir ‘n ikoon is natuurlik ‘n Gotiese kerk met pragtige gebrandskilderde glasvensters en duisende kerse met akoestieke koormusiek in die agtergrond.

Ongelukkig bevind die ikonograwe hulle in Potchefstroom. Dit is 2019 en jy moet vat wat jy kry.

Marna de Wet (regs) bied die kursus aan. Hier is sy besig om die gipsmengsel aan te maak.

Potchefstroom kunstenaars wat vir die ikonografie-kursus van die plaaslike kunsvereniging ingeskryf het, is nie monnike nie en het ook nie baie tyd op hande nie. Hulle kom slegs elke Saterdag by Vida Verde, ‘n restaurant en kroeg, bymekaar om hulle ikone te skep.

Die monnike draai in hul graf om! Die kursusgangers bestel koffie, neem “smoke breaks” en swets as hulle die noukeurige tekeninge nie perfek gedoen kry nie. Hulle is alles behalwe die model ikonograaf, tog koester hulle dieselfde bewondering vir hierdie eeue oue kunsvorm.

Die twee Saterdae wat hulle geplak, geskuur, geteken en geverf het, het aan hulle net soveel saligheid gegee as die monnik wat eeue gelede “prim en propper” in sy klooster geskilder het.

Elsalie Verster, Adélle Jerling en Jan Louw teken hul ikone op die houtblok.
Exit mobile version