Leer ikone skilder

Die Potchefstroomse Kunsvereniging bied ‘n gratis kursus in ikonografie skilderkuns aan wat oor vier Saterdae in die Junie-vakansie strek.

Ikone word met Ortodokse Kerke, flikkerende kerslig en wierook geassosieer. Diegene wat nog altyd deur dié misterieuse Middeleeuse kunsvorm bekoor word, kan nou leer hoe om dit self te doen.

Die Potchefstroomse Kunsvereniging bied ‘n gratis kursus in ikonografie skilderkuns aan wat oor vier Saterdae in die Junie-vakansie strek. Die kursus begin op Saterdag 15 Junie en word van 9:30-12:30 by Vida Verde (Chris Hanistraat 78) aangebied. Die klasse wat daarna volg vind dieselfde tyd op Saterdae 22 en 29 Junie asook 6 Julie plaas.

Marna de Wet, kunstenaar en bestuurslid van die Potchefstroomse Kunsvereniging, bied die kursus aan. Sy het onder meer opleiding by ‘n Griekse ikonograaf, Nikolai Loukakis, gehad wat haar die fynere kunsies van ikonografie geleer het.

Met die eerste klas ontvang leerlinge ‘n kort inleiding oor ikoon skilderkuns. Hulle word geleer om die houtblok waarop die ikoon geskilder word, voor te berei. Lede kies dan die ikoon wat hul gaan skilder en berei die agtergrond voor.

Tydens die tweede en derde klas leer Marna hoe om olieverf of tempera te meng en aan te wend en tydens die laaste klas word daar aandag gegee aan afronding, goudblad aanwending en tipografie.

Slegs 10 persone kan vir die kursus inskryf. Om plek te bespreek, word ‘n R100 deposito betaal. Ingeskrewe lede van die kunsvereniging sal na afloop van die kursus hul deposito’s terug ontvang. Om in te skryf, stuur ‘n epos na potchkuns@gmail.com met ikoonkursus in die boodskap. Meer besonderhede word daarna aan u gestuur. Inskrywings sluit op Maandag 10 Junie. Vir navrae, kontak Elna Venter by 072 482 3690.

Exit mobile version