Nogtans sal ek jubel in my God

Ds. Koos Mouton – Gereformeerde kerk Mooirivier Lees Habakuk 3: Tel jou seëninge sê ons dikwels vir mense wat kla oor alles. Kan jy jubel in die Here as daar geen geld in jou beursie is nie? As alles rondom jou tot niet gaan? Habakuk het na ‘n intense worsteling met God nog steeds gejubel …

Ds. Koos Mouton – Gereformeerde kerk Mooirivier

Lees Habakuk 3: Tel jou seëninge sê ons dikwels vir mense wat kla oor alles. Kan jy jubel in die Here as daar geen geld in jou beursie is nie? As alles rondom jou tot niet gaan?
Habakuk het na ‘n intense worsteling met God nog steeds gejubel in die Here. Nie oor die seën wat die Here gegee het nie, maar oor God self. God wat selfs seën kan weerhou. ‘n Profeet (dominee) wat kon sê al is daar geen vee in die krale nie, hy nogtans sal juig in God. In Hab.1:6 sê die Here dat hy die wrede Chaldeërs sal laat kom om die volk van God te onderdruk. Habakuk vra hoekom dit so is dat onreg gepleeg word teenoor die regverdiges?
Hy kry die versekering dat die Here in beheer is en oor alles en almal regeer.
Aan die einde van die boek kon die profeet uitbreek in ‘n loflied: “Al sou die vyeboom nie bot nie…” Die Here sal die goddeloses straf en sy volk verlos. (Hab. 3). Mens sou kon vra wie die Here is dat Habakuk so in Hom bly roem terwyl daar geen seëninge is om te tel nie. Seëninge, geld in die bank, bates en beleggings, is vir ons almal belangrik. Jy moet eet en aantrek en ‘n dak oor jou kop hê. Habakuk hou aan die Here vas, al is daar geen oes op die land of klein- en grootvee in die krale nie. Die profeet leer die Here ken as die Een wat kom om te verlos. Vroeër in Israel se geskiedenis het Hy hulle uitgelei uit Egipte.
God laat nie sy ongehoorsame volk los nie. Hy kom soek hulle altyd weer op. So doen Hy ook met ons, wat eeue na Israel lewe. Uiteindelik word die mag van die Chaldeërs (Babiloniërs) verbreek. God is sterker as alle bose magte wat daar mag wees. Hy regeer. Hy is die Here. Daar is niemand soos Hy nie. Ons leef na die sterwe en opstanding van Christus. Ons kan met Hom praat en Hy antwoord ons. Ons kan in Hom jubel, al is die omstandighede uitsigloos. Al is daar droogtes en misoeste. Al is daar nie geld in die bank en weet ek nie hoe ek die einde van die maand al my verpligtinge sal kan nakom nie. Dit, nie omdat ons supermense is en bestand is teen die slegte dinge nie. Ons is meer weerloos en broos as die ongelowiges. Ons juig in Hom omdat Hy God is en daar naas Hom geen ander God is nie. As al jou sekuriteite wegval, is God nog daar. Nogtans sal ek jubel in my God…..

Exit mobile version