Fliek Vlooi: Dis koue kos, skat

Ek gee dié film 9/10. Met ‘n briljante rolverdeling, ‘n heerlike storielyn en genoeg drama om jou op die punt van jou stoel te laat sit, is hierdie werklik ‘n wenner. Hierdie is beslis een van die beste Afrikaanse films wat ek in ‘n lang tyd gesien het.

Wraak is ‘n dis wat die lekkerste smaak wanneer dit koud geëet word. Hierdie stelling is sentraal in die film Dis Koue Kos, Skat, ‘n Afrikaanse film gebaseer op die roman van Marita van der Vyver wat gaan oor stroopsoet wraak.
Die kosskrywer Clara Brand (Anna-Mart van der Merwe), besluit om van Pretoria af Kaap toe te trek na haar man, Bernard Marx (Deon Lotz) haar en haar gesin los vir ‘n jonger, blonder model. Alhoewel Bernard al vir Clara verneuk het met haar blonde kollega en vriendin, Anais (Angelique Gerber), het sy gehoop hulle sou dinge kon laat uitwerk, maar besluit toe dat die enigste uitweg vir haar eksman tog net yskoue wraak kan wees.
Tussen-in haar kookklas, geselsies met haar beste vriendin Minette (Elsabe Zietsman) en spontane afsprake met die nuwe vlam in haar lewe Ari (Frank Opperman), beplan sy hoe sy wraak gaan neem op Bernard.
Dis Koue Kos, Skat is ‘n vuurwarm drama wat jou gaan laat lekkerkry tot op die einde. Nie net is die kos wat deur die loop van die film voorberei word watertand nie, maar die sappige drama en soet humor laat jou honger kry vir nog.
Ek gee dié film 9/10. Met ‘n briljante rolverdeling, ‘n heerlike storielyn en genoeg drama om jou op die punt van jou stoel te laat sit, is hierdie werklik ‘n wenner. Hierdie is beslis een van die beste Afrikaanse films wat ek in ‘n lang tyd gesien het.
Dis Koue Kos, Skat het ‘n ouderdomsbeperking van 13 en bevat kru taal.
Die DVD is beskikbaar om uit te neem by DVD4home op die hoek van Retiefstraat en Govan Mbekirylaan, of skakel hulle by (018) 293 3895.

Exit mobile version