HealthLifestyle

Miniatuur speelgoed maak mediese verskil

Budding vertel hoe om Checkers Mini's te gebruik om 'n kind te stimuleer

Nie net is Checkers Mini’s die nuutste groot versamelgier nie, maar dit maak ook ’n verskil in die mediese wêreld.
Simone Budding, ’n arbeidsterapeut by Potchefstroom Hospitaal gebruik Checkers Mini’s as deel van haar behandelingproses om kinders en volwassenes met leerprobleme, verstandelike gestremdhede, diverse handkondisies en psigiatriese steurings te help herstel.
Die klein versamelstukke help selfs pasiënte wat beroertes ondergaan het om te herstel. “Toe ons gehoor het van hierdie promosie by Checkers was al die terapeute baie opgewonde omdat ons dadelik die terapeutiese waarde in die Mini’s gesien het,” sê Budding.
Daarom het sy gevra dat die gemeenskap haar sal help om die Checkers Mini’s te versamel om te help met die hospitaal se terapie.

Hier volg ‘n lys van aktiwiteite wat tydens terapie gebruik word, en wat ouers met hul kinders by die huis ook kan doen:

Budding vertel hier hoe om Checkers Mini’s te gebruik om ‘n kind te stimuleer:

  1. Verbeeldingryke speletjies

Hierdie tipe speletjies is waar die kind leer om volwassenes na te boots. Hulle kan of die winkelassistent wees of die ouer wat die inkopies doen om na die huishouding om te sien. Hierdie leer die kind goeie gewoontes soos spanwerk, om aan reëls te voldoen en samewerking. Budding sê ook dat in haar ondervinding bou hierdie tipe speletjies selfvertroue en maak dit die kind meer nuuskierig.

  1. Sortering

In hierdie aktiwiteit vra sy die kinders om die Mini’s te sorteer volgens a) kleur, b) eetbare goedere, c) toiletware, d) skoonmaakmiddels vir die huis en e) items waarmee ons onsself skoon hou. “Sortering is ‘n kognitiewe vermoë wat ons daagliks gebruik. Kinders ontwikkel nog die vaardigheid deur by voorbeeld te sorteer volgens kleur, seisoen, temperatuur ens.

  1. Leer oor geld

Budding doen hierdie aktiwiteit deur vir die kinders die volgende scenario te gee: “Ons beplan vir ‘n oorslaap-partytjie. Ons is 3 vriende en ma het ons R150 gegee om kos en lekkers vir die partytjie te gaan koop.” So beplan hulle saam hoeveel kos hulle gaan kort, hoeveel kos elke item, hoeveel van elke item het hulle nodig, hoeveel kleingeld gaan hulle kry en of ma genoeg geld gegee het. Hierdie help met die kinders se redenering, berekening en hantering van geld.

  1. Pas goed by mekaar

Om die driedimensionele produk te pas by die tweedimensionele prentjie, help weer om visuele perseptuele vaardighede te ontwikkel. Daar is ‘n verskeidenheid visuele perseptuele vaardighede wat verband hou met hoe kinders presteer op skool. Om te lees en skryf is van die vaardighede wat hierdeur beïnvloed word.

  1. Stereognose

Stereognose beteken om eienskappe van ‘n voorwerp te identifiseer deur slegs te vat aan die voorwerp. Dit help ‘n kind om ‘n voorwerp uit te ken aan die gevoel al kan hy of sy dit nie sien nie.

  1. Fyn motoriese aktiwiteite

Om ‘n Mini op te tel moet jy in staat wees om dit vas te hou, maar dit is nie vir almal so maklik soos wat dit klink nie. Wanneer jou fyn motoriese vaardighede nog besig is om te ontwikkel is dit soms moeilik om klein voorwerpe op te tel. ‘n Eenjarige sal by voorbeeld ‘n blokkie optel deur sy hele hand te gebruik, waar ‘n vyfjarige dit sal doen deur net ‘n paar vingers te gebruik.

  1. Oriëntasie en ruimtelike verhoudings

Indien jy die versamel houer van die Checkers Mini’s het, kan die kind die speelgoed pas waar hy in die houer hoort. Om dit reg te kry sal die kind die Mini reg moet insit sodat dit in die spasie pas. Ruimtelike verhoudings het twee dele: a) hoe ek ‘n voorwerp sien in verhouding met myself en b) hoe ek ‘n voorwerp sien in verhouding met ‘n ander voorwerp. Kinders met probleme in die area is geneig om nie op die lyne te skryf in hul skoolboeke nie, hulle skryf soms letters agterstevoor of raak deurmekaar met letters soos ‘b’ en ‘d’ en nommers soos ‘2’ en ‘5’.

  1. Geheue speletjies

Kinders wat sukkel met konsentrasie, aandag en geheue sal baat by die aktiwiteit. Plaas drie Mini’s op ‘n tafel en laat die kind toe om daarna te kyk vir 5 sekondes. Bedek dan die Mini’s en vra die kind om te herroep wat hy gesien het. Elke keer wanneer die kind reg is, maak dan die Mini’s op die tafel meer.

 

 

Related Articles

Back to top button