Editor's choiceEditor's note

Hopelik is daar lig in die tonnel

Is daar lig in die tonnel? Die stilte van die ANC oor die manewales van die bedryfshoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, is verbreek en die minister van kommunikasie moet glo Maandag vrae van die ANC se subkomitee oor kommunikasie van die nasionale uitvoerende komitee gaan beantwoord.

Is daar lig in die tonnel?
Die stilte van die ANC oor die manewales van die bedryfshoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, is verbreek en die minister van kommunikasie moet glo Maandag vrae van die ANC se subkomitee oor kommunikasie van die nasionale uitvoerende komitee gaan beantwoord.
Dit blyk dat die party ontevrede is oor hoe sake by die SAUK verloop.
Dit is goeie nuus, nie net vir ons kollegas by die SAUK nie, maar vir mediavryheid in die algemeen. Mens weet natuurlik nie wat die gevolge na Maandag gaan wees nie, maar dit lyk na lig in die tonnel.
Die “manewales” van Motsoeneng is eintlik lig gestel. Sy uitsprake, ek is die SAUK en die SAUK is ek, is, om Wilhelm Jordaan in Beeld se woorde te gebruik, tegelyk lagwekkend en hartseer. Lag omdat dit so naragtig is en hartseer omdat dit die tragiek van ons land weerspieël.
Jordaan verwys na Motsoeneng as ’n tipiese narcis. Die beheptheid en ingenomendheid met die self. Hopelik gaan iemand sy borrel bars. Maar hiermee saam is daar ’n volgende brander aan die kom. En dit is nie die eerste keer dat so iets op die tafel kom nie. Dit is naamlik dat Suid-Afrika by die Verenigde Nasies saam met Rusland en China gestem het teen ’n resolusie om vryheid van uitdrukking op die internet te verskans. Die teenstemme was gelukkig nie geslaagd nie.
Lees dit egter saam met voorstelle verlede jaar van die Rolprent- en Publikasieraad wat daarop neerkom dat almal wat digitale inhoud op die internet plaas by hulle moet registreer.
In kort: Enige inligting van enigiemand sal dan eers “geklassifiseer” word.
Dis tog duidelik waarop alles afstuur.

Related Articles

Back to top button