Skool sê aggressie sal nie geduld word nie

Boeliegedrag is ’n werklikheid en probleem van ons tyd wat nie net by skole algemeen gesien word nie, maar selfs op sosiale media waar mense se strydlustigheid dikwels duidelik na vore tree

Boeliegedrag is ’n werklikheid en probleem van ons tyd wat nie net by skole algemeen gesien word nie, maar selfs op sosiale media waar mense se strydlustigheid dikwels duidelik na vore tree. Die afgelope week was daar ook by die Hoërskool Parys ’n konflik-voorval tussen twee graad 9’s en ’n graad 11-leerling wat sprekend hiervan was.
Die konflik het vroeër verlede week oënskynlik reeds buite die skool in die dorp begin, wat uiteindelik Donderdag tydens pouse op die skoolterrein tot uitbarsting gekom het toe die seuns handgemeen geraak het. ’n Onderwyser aan diens op die skoolterrein het tussenbeide getree en die konflik ontlont. Ná skool het ’n buite party egter weer tot die geskil tussen die seuns buite die skoolhek toegetree en is die persoon deur die skool se dissiplinêre beampte, mnr. Johan Aspeling, gevra om die terrein te verlaat.
“Daar was nie ernstige beserings nie en die skool is tans besig met dissiplinêre aksies teen die onderskeie partye wat deur die beheerliggaam hanteer word,” het die skoolhoof, mnr. Lucien van Zyl, gesê. Van Zyl het by navraag oor die voorval gesê dat die skool voorvalle soos hierdie verdoem en dat die skool in sy klaskamers en op die terrein ’n beleid van geen verdraagsaamheid teenoor ontoelaatbare gedrag duld nie.
Op bewerings dat die skool meer moet doen om dissipline toe te pas en konflik tussen kinders te hanteer, het die hoof gesê dat die skool ’n streng dissiplinêre stelsel volg wat reeds deur die Onderwysdepartement raakgesien is, en dat ’n geruime tyd gelede al besluit is op die aanstel van ’n dissiplinêre beampte juis om toe te sien die regte dissiplinêre prosedures word gevolg deur ’n onbetrokke party met die nodige kundigheid en ervaring.
Van Zyl het gesê dat ’n multi-kulturele skool soos Hoërskool Parys uitdagings het, maar dat personeel enige voorval van konflik of wangedrag deur leerlinge in ’n ernstige lig sien en dit dienooreenkomstig hanteer. Met boeliegedrag onder kinders wat al meer gesien word, het die Onderwysdepartement ook al die nodigheid gesien om onderwysers hiermee leiding te gee en het onderwysers van verskeie skole onlangs ’n kursus hieroor bygewoon. Dit is deur die Onderwysdepartement se afdeling vir Inklusiewe Onderwys aangebied. Hoërskool Parys het ook ’n onderwyseres wat spesifiek opgelei is in die hantering van konflik en wat saamwerk met ’n sielkundige om die nodige verwysings te maak, sou dit nodig wees.
Ongelukkig moedig ouers soms onwetend aggressiewe gedrag by kinders aan wat dikwels konflik en gewelddadige optrede aanmoedig, eerder as om kinders leiding te gee oor hoe om konflik te hanteer om die geskil positief op te los, het die department gevind.
Die skool se beheerliggaam by monde van sy voorsitter, mnr. Hannes Grimbeek, het in reaksie op die voorval benadruk dat die skool geen verdraagsaamheid teenoor ontoelaatbare gedrag sal duld nie en konflik op die skoolterrein in só ’n ernstige lig gesien word dat oorweeg sal word om ernstige gevalle as kriminele klagte by die polisie aan te meld, en indien nodig met skuldigbevinding, ook na die departement te verwys vir uitsetting.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version