LifestyleReligion

Die wet help ons daarin dat ons dit wat die Here van ons vra, kan weet

Wat doen die wet wel? Verlede week het ons gehoor dat om die wet te probeer nakom om daarmee jou plek in die hemel te verdien, nie kan nie. Maar hoekom het God aan ons sy wet gegee?

Ds. Koos Mouton – Geref. Kerk Mooirivier
Lees Galasiërs 5:1 en 13-26.

Wat doen die wet wel? Verlede week het ons gehoor dat om die wet te probeer nakom om daarmee jou plek in die hemel te verdien, nie kan nie.
Maar hoekom het God aan ons sy wet gegee?

Daar is twee uiterstes wat na vore kom. 1. Ek kan myself so vry van die wet dink dat dit in losbandigheid kan ontaard. 2. Of ek kan so wetties raak dat ek soos die Fariseër in die tempel myself op die skouer begin klop omdat ek tiendes van anys en kruisement gee.

Ds. Paulus praat in Gal 5:1 dat ons nie die vryheid wat ons het mag misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie. Die wettiese manier van nakoming van God se wet stoomroller nie die hemelpoorte vir ons oop nie. Die wet leer ons wel HOE om hier op aarde dankie te sê aan die Here vir sy genade. Dis ‘n tugmeester (onderwyser) wat ons telkens weer wil teruglei na ons Verlosser, Jesus Christus, toe. Jy is so bly dat Jesus jou slawebande, om aanmekaar sonde te doen, deurgesny het, dat jy nou ‘n ander soort slaaf word. Paulus gebruik ‘n woordspeling in Gal. 5:13: “Christen-vrygelatenes dien mekaar as slawe in liefde.” Daarom is die eerste vrug van die Gees LIEFDE. Hoe kry ek dit reg om in hierdie LIEFDE, as vrug van die Gees, te lewe?

Gees teen vlees – dis maar altyd teenwoordig in ons ou sondige natuur. Die Heilige Gees wil ons sò lei dat ons wel volgens God se wil en wet vir ons lewe wil leef. Dan word die wet nie sleg nie – eerder goed. Dis soos om my die melodie te gee om die lied van dankie-sê te laat saamsing. Van nature is ek verskriklik vals, maar die Heilige Gees gee my ‘n musikale stem om die danklied tot eer van die Here reg te kan laat sing.

Die wet van God maak my nog meer vry. Christus het my vrygemaak, en die wet laat my in hierdie vryheid leef. Dis soos ‘n vis in die water. Buite die water op droë grond gaan die vis gou doodgaan. Maar in die wye oseaan kan dit swem net waar dit wil. Bly dus binne die water van God se genade en dit sal met jou goed gaan. En: Psalm 119 is die langste in die psalmbundel en handel van voor tot agter oor die wet van God. Dit is vir ons die lamp vir die voet en die lig vir die pad.

Nou hoe sal ons in die wet van God, om dankie te sê, kan bly? Daarvoor sorg die Here. Hy het in Eseg. 36:26,27 die belofte gegee dat Hy sal maak dat ons volgens sy voorskrifte leef. Die wet help ons daarin dat ons dit wat die Here van ons vra, kan weet, en dan dit doen om dankie te sê.

Dan sorg die Heilige Gees vir die liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, …selfbeheersing,…

Related Articles

Back to top button