LifestyleRecipes

Ekonomiese geregte II

Ons kyk vir ‘n tweede keer en brei uit op ekonomiese geregte, deur gebruik te maak van die piramide model. Die basis van die piramide bestaan uit stysels soos mielie- en koringmeel, rys, pastaprodukte, mielierys, stampmielies en koring, wat goedkoop is. Die volgende groep is die groente en vrugte waarvan die grootste groep groente is. …

Ons kyk vir ‘n tweede keer en brei uit op ekonomiese geregte, deur gebruik te maak van die piramide model.

Die basis van die piramide bestaan uit stysels soos mielie- en koringmeel, rys, pastaprodukte, mielierys, stampmielies en koring, wat goedkoop is.

Die volgende groep is die groente en vrugte waarvan die grootste groep groente is. Koop altyd in seisoen, nooit as dit te oud of verlep is nie. Gebruik rou groente sover moontlik en moenie die skille van groete weggooi nie.

Net onder die skil van groente en vrugte is die meeste voedingswaarde, daarom moet jy dit altyd met die skil eet waar moontlik, byvoorbeeld wortels.

Berei groente korrek vir behoud van beste kwaliteit, aptytwekkend sodat daar nie oorskietkos op die bord oorbly nie.

Groente word geprut in ‘n bietjie kookwater totdat dit gaar is op hoë/medium hitte. Hou die kookproses so kort as moontlik en hou die maksimum voedingswaarde deur die voedsel so min as moontlik te hanteer. Gebruik geen of min sout, maar meer speserye.

Onthou koeksoda vernietig alle voedingswaarde en moet nooit gebruik word om die beste kleur uit te bring nie.

Melkprodukte is die volgende belangrike groep. Dit is nutriënt ryk aan proteïne en dit is waarom babas leef op melk, in besonder moedersmelk wat by verre die beste is. Melk en melkprodukte bly dwarsdeur die mens se lewensloop belangrik, omdat dit kalsuim voorsien wat bene en tande bou.

Die kwaliteit van melk is onveranderd, of dit duur of goedkoop is.

Ons proteïen aanvulling word verkry van vleis, laevet maalvleis, lewer of eiers. Ander produkte wat kan dien as vleisvervangers is droë bone, droë ertjies, lensies en sojabone wat relatief goedkoper is.

Kaas kan ook as ‘n goedkoper vervanger van vleis en vis gebruik word.

Wat vette betref, is dit in totaal die goedkoper produkte. Olie per gram kos minder as botter en margarien. Hou die vette wat vrykom van die vleisprodukte om ‘n volgende keer te gebruik in die plek van enige ander vet. As te veel vet versamel van vleis, beteken dit die vleis is te vetterig. Onthou dat sintetiese room goedkoper is as gewone room.

Ander belangrike punte om in ag te neem:

Die dieet moet aanvaarbaar wees vir jou gesin, anders is jou beplanning verniet.

Gebruik goeie oordeel en strategieë wanneer nuwe disse of produkte bedien word. Pas dit geleidelik in by die gesin se dieetpatroon; byvoorbeeld vervang eers net van vleisgereg met een van droë peulgroentes soos bone/soja en geleidelik meer tot jy geheel kan oorskakel na vegetariese dis. Dieselfde beginsel kan toegepas word met enige ander voedsel, byvoorbeeld groente soos spinasie wat nie altyd ‘n gunsteling is nie – soos spinasie-noedelgereg. Bring nuwe geregte af en toe in. Dit is goed om dit altyd deel te maak van ‘n gunsteling voedsel.

Om ekonomiese redes en vir die smaak, word aanbeveel om soppoeier soos sampioen-, en hoendersop tot die mengsel te voeg.

Geregte moet aantreklik en aptytwekkend lyk. Dis belangrik, al is dit net 5 minute om gereg te garneer, soos wortelkrulle en lente-uitjies.

Hier is ‘n maklike baie ekonomiese resep om van die skille en bo-punte van groente ook gebruik te maak in ‘n kasserolgereg:

Alles-in-een-gereg (6-8 porsies)

(Voorbereidingstyd ongeveer 30 minute en gaarmaaktyd 3 ure)

160g suikerbone (200 ml)

200g stampmielies (250 ml)

Koue water

15ml olie

350g beeskortrib, in 25 mm blokkies gesny

10g melkerriepoeier

10ml sout

2ml varsgemaalde swartpeper

1 lourierblaar

5ml gedroogde gemengde kruie

3 middelslag aartappels, in blokkies gesny

4 middelslag wortels met skil, in ringe gesny

2 preie met blare in stukkies gesny

2-3 tamaties met blomente, in stukke gesny

2 buiteblare van kool/blomkool, in stukke gesny

20ml asyn

150ml vleisaftreksel

Meng bone en stampmielies in groot kastrol en bedek met koue water. Laat verkieslik oornag staan of gebruik ‘n drukkoker om krag en tyd te spaar. Verhit tot kookpunt en laat 5 minute vinnig kook (as gewone kastrol gebruik).

Skakel plaat af en laat 1 uur lank op plaat staan met deksel op (gewone kastrol).

Verhit weer tot kookpunt en laat prut 2 tot 3 uur lank tot boontjies en stampmielies sag is. Maak intussen die vleis gaar. Verhit die olie en braai die vleis alkante bruin.

Voeg kerriepoeier by en braai dit.

Voeg die sout, swartpeper, lourierblaar en gemengde kruie by, asook die aartappels, wortels, preie, tamaties en kool. Verhit asyn en vleisaftreksel saam en voeg by vleismengsel. Prut tot vleis sag is, ongeveer 2 ure lank. Meng vleis en stampmieliemengsel liggies saam net voor bediening.

Onthou die basis van enige ekonomiese beplanning bly gesondheid.

Ek hoop hierdie paar eenvoudige idees help jou om maklik en vinnig ekonomies te oorleef.

As jy nog idees het om die moeilike ekonomiese tye te oorleef, stuur dit asseblief na duplessisan@gmail.com.

Related Articles

Back to top button