Potch fietsryers vang wind by Cape Argus

71-jarige Ansie Haarhoff het haar 21ste Argus gery.

‘n Paar kranige fietsryers het die lang tog vanaf Potchefstroom na die Kaap aangepak om 9 Maart aan die bekende Cape Argus fietswedren deel te neem.
“Om die Argus te ry is soos ‘n boks vol chocolates: you never know what weather you will get,” so het Hardus Rossouw die wedren vir almal opgesom. Hardus en sy vrou, Sanet het saam aan die wedren deelgeneem. Dit was Hardus se 25ste Argus en Sanet se 24ste 109 km.

Sanet en Hardus Rossouw.

Leonie Geldenhuys, Ansie Haarhoff, Karen Schutte, Willie Ackerman en Madelein Geldenhuys het ook aan die Argus deelgeneem.

Karen Schutte en Ansie Haarhoff.

“Alhoewel 109 km op ‘n padfiets vir sommige ryers kinderspeletjies is, is daar tog diegene van ons vir wie dit ‘n uitdaging en avontuur is,” merk Leonie op. Ansie Haarhoff, tans 71 jaar oud, het al 21 keer die 109 km wedren voltooi. Sy het vanjaar die 42 km wedren gery. “Dis vir haar so noodsaaklik soos asemhaal om die Argus te ry. Ons kan haar ook nie by die huis los nie. Sy sal ons nooit vergewe nie,” vertel Leonie.
Ansie se kleindogter, Karen Schutte, is ook deur die fietsry-gogga gebyt en het saam met haar ouma die 42 km wedren gery. Dit was haar eerste Argus.

Leonie Geldenhuys en Willie Ackerman.

Willie Ackerman het sy tweede 109 km wedren voltooi. Hy is ‘n sterk atleet wat hou van ‘n uitdaging en het al voorheen die Ysterman gedoen. Madelein Geldenhuys het die jaar haar 14de 109 km wedren voltooi. Madelein se fietsryloopbaan is deur Ansie Haarhoff aangespoor en Madelein probeer elke jaar om die vorige jaar se tyd te verbeter. Vir Leonie Geldenhuys was dit lekker om aan die Argus te kon deelneem nadat sy ‘n ernstige kniegbesering tydens ‘n werksongeluk opgedoen het. “My motto is nie verniet ‘Shut up legs’ en ‘Vasbyt’ nie,” lag Leonie.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version