SportSport

Wessies domineer liga, nog net laaste hekkie

Die Noordvaal Skild afdeling eindstryd gaan tussen twee Noordwes spanne beslis word.

Hoërskool Wesvalia van Klerksdorp, het die Noordvaal skild afdeling gedomineer en moet nog net komende naweek die eindstryd wen om hulle Noordvaal veldtog onoorwonne af te sluit.

Wessies het Saterdag teen Secunda in die halfeindstryd van die kompetisie gespeel. Hulle moes hard werk vir hulle, 33 -21 wen na Secunda drie vinnige drieë teen hulle gedruk het.

Willem van der Sandt, Wesvalia se hoofafrigter, het sy troepe bymekaar getrek om weer in ‘n eindstryd te speel. 107km Noord van Klerksdorp het Lichtenburg met verlede jaar se bowl kampioene, Die Anker afgereken. Liggies het hulle wedstryd in die laaste oomblikke met 32 – 29 gewen.

Die eindstryd gaan komende Saterdag op Wesvalia se gronde plaasvind. Volgens Van der Sandt sal die bruin bere nie vir Liggies onderskat nie.

“Hulle is baie sterk in die vaste fasette van die spel. Hulle dryfmaal is goed en hulle was seker ons moeilikste teenstanders in die liga. Dit gaan ‘n groot stryd vir albei spanne wees,” het Van der Sandt gesê.

Lichtenburg se hoofafrigter, Michael Bondesio en Willem van der Sandt is kollegas wat die laaste drie jaar die Luiperds tydens die Cravenweek gebrei het. Hulle sal mekaar se manier van dink en patrone ken.

“In ‘n eindstryd het enige iemand ‘n 50/50 kans om te wen. Dit bly ‘n groot uitdaging, Wesvalia het nog nie ‘n wedstryd verloor nie, so hulle moet die gunsteling wees. Ons is bly, dit is die eerste keer in ‘n lang tyd wat een van ons eerste spanne in ‘n Noordvaal eindstryd is. So ons sien baie uit om Klerksdorp toe te gaan en daar te speel,” het Michael Bondesio, hoofafrigter van Lichtenburg gesê.

Wesvalia se o.14 en o.15 span speel ook in die eindstryd. Die Klerksdorpers het verlede jaar ook drie spanne in die eindstryd gehad maar kon nie ‘n beker wen nie. Dit is hierdie naweek hulle geleentheid om daai eindstryd apie van hulle rug af te kry voordat hulle volgende jaar hulleself in die plaat afdeling gaan toets.

Related Articles

Back to top button