Gimmies gee Wagpos groot loesing op Mooivallei

Gimmies se 1ste XV is nog onoorwonne in die kompetisie

Gimmies se 1ste XV het vir Wagpos, met 80 – 7 Vrydagmiddag op Mooivalleipark oorrompel.

Dit is die tweede week in ‘n ry wat Wagpos 80 punte in ‘n wedstryd afgestaan het.

Volgens Jacques Botes, hoofafrigter van Gimmies, het die Potchefstromers baie goed gespeel.

“Dit het bietjie los geraak op tye maar dit is nie elke dag dat mens 80 punte in ‘n wedstryd kan aanteken nie,” he Botes gesê.

Gimmies se 1ste XV is nog onoorwonne in die kompetisie en op die stadium van die kompetisie lyk ‘n halfeindstryd plek vir die Potchefstromers na ‘n gedane saak.

Vir hulle volgende uitdaging gaan hulle Pretoria toe reis om Eldoraigne aan te vat. Die Pretorianers het die vorige week met 88 – 13 teen Wagpos koning gekraai. Dit behoort die manne van Gimmies se moeilikste toets nog te wees.

“Dit gaan beslis taai wees, die manne blaas in ons nekke en hulle het goeie momentum opgetel die laaste ruk. Dit gaan beslis ‘n groot uitdaging wees maar ons sien uit daarna,” het Botes gesê.

 

Exit mobile version