SportSport

Van klubrugby tot Luiperdsdroom

Hy is hardwerekend, hy moes wees om te kom waar hy nou is.

Tussen vyf en ses in die oggend opstaan, kinders aantrek, voer en by die skool kry. Vol werksdag en dan wanneer almal by die huis ontspan, trek jy jou rugby stewels aan om tot agt uur te oefen.
Dit is die gemiddelde dag vir Tjaart Benade (29), onderkaptein en binnesenter van die Luiperds. Intussen moet Tjaart nog by die streng ‘gym’ program wat die Luiperds vereis ook uitkom.
“Dit is maar harde werk, maar mens moet mos maar hard werk vir die dinge wat jy in die lewe wil hê,” vertel Tjaart.
Dit som dié boorling van Lichtenburg uitstekend op. Hy is hardwerekend, hy moes wees om te kom waar hy nou is.
Tjaart het nie die algemene roete na die Curriebeker gevolg nie.
Tjaart matrikuleer in 2012 aan die Hoërskool Lichtenburg waarna hy sy ambag as elektrisiën in Pretoria begin.
Nadat hy sy teorie voltooi het, is hy terug Lichtenburg toe waar hy vir vyf jaar gewerk het terwyl hy sy prakties voltooi. Hier het hy vir Lichtenburg rugbyklub uitgedraf. In 2018 verhuis Tjaart na Klerksdorp waar hy vandag steeds as elektrisiën werk.
”Ek het vir Klerksdorp rugbyklub gespeel toe ‘coach’ André Pretorius my in 2019 nader om by die Luiperds te begin oefen. Ek het vir so maand saam geoefen voordat hulle my gevra het om aan te sluit,” vertel Tjaart.

André Pretorius is die afrigter wat Tjaart genooi het om saam die Luiperds te kom oefen. Hy was deel van die span wat die A-afdeling van die Curriebeker gewen het.

 

Volgens hom was dit nog altyd een van sy drome om in die groen en rooi uit te draf.
”Ek het so half die droom afgeskryf, maar toe kom ‘coach’ André met die geleentheid. Hy het my baie gehelp en ek het baie by hom geleer. Nou staan ek al op 48 wedstryde vir die Luiperds,” lag Tjaart.
Dit is nie algemeen dat oop klubspelers op langtermyn by die seniorspan betrek word nie. Gewoonlik word dit bepaal deur die hoeveelheid tyd wat klubspelers aan hulle kondisionering en oefening spandeer.
Dit is iets wat dié plaaskind nie pla nie.

”Ek werk nog my hele lewe lank hard, ons het ‘n plaas naby Buhrmansdrif, daar het ek aan harde werk gewoond geraak,” spot Tjaart.
Die ekstra ure wat dit verg om dit by ‘n provinsiale span te maak affekteer nie net ‘n persoon se vrye tyd nie, maar ook tyd saam met jou gesin. Tjaart is getroud met twee jong kinders. Volgens hom mis hy ‘n groot gedeelte van sy kinders se lewe, veral terwyl die seisoen aan die gang is.
”Mens offer maar baie op in terme van gesinstyd. As die seisoen verby is dan geniet ons mekaar darem weer. My vrou verstaan en sy ondersteun my 100%. Sy sal my sommer op ‘n Sondag motiveer om te gaan draf. Na ‘n wegwedstryd en ‘n lang busrit is mens moeg en nie eintlik lus vir enige iets nie. Gelukkig hou sy ook van draf so ons doen dit dan saam,” vertel hy.
Tjaart se pa is op 21 Junie oorlede. As gevolg hiervan het Tjaart een wedstryd vir die Luiperds gemis waarna hy weer volstoom begin oefen het. ”My pa was my eerste afrigter en hy het ons afgerig van Bulletjie Rugby tot in Graad 7. Ek wil nou speel om my pa trots te maak. Hy het vir die rugby gelewe.”
Daar is dit weer hardwerkend, maar ook toegewyd.
Volgens Tjaart maak dit dinge makliker vir ‘n speler as jy weet die afrigters glo in jou.
”Vir my is ‘coach’ Matt so afrigter. Ek weet hy glo in ons, hy staan bankvas agter ons,” verduidelik hy.
Dit moet makliker ook wees vir ‘n afrigter om agter ‘n speler te staan wat so hard werk en so toegewyd aan die span is.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button