SportSport

Luiperds wil naam in ere herstel teen Valke

Die Noordwesters het in die SA beker met 50 -19 in Kempton Park teen die Valke verloor, dit is iets wat hulle wil regstel. 

Dit gaan vir die Luiperds oor, om die Engelse woord te gebruik, ‘Redemption’ komende Saterdag teen die Valke.

Die Noordwesters het in die SA beker met 50 -19 in Kempton Park teen die Valke verloor, dit is iets wat hulle wil regstel.

“Dit is nie wraak nie, wraak gaan oor die opponent, ons wil beter wees vir onsself,” het Matt Proudfoot, hoofafrigter van die Luiperds verduidelik.

Met slegs twee noodgedwonge veranderinge in die span wat teen Grens gewen het, en boonop met tuisveld voordeel, behoort die Luiperds goeie rekenskap van hulleself te kan gee. Volgens Proudfoot is die spelers passievol oor hulle tuisgrond.

“Dit is vir hulle baie spesiaal, ons probeer dit meer spesiaal maak deur nie elke dag op die A veld te oefen nie. So wanneer hulle opdraf is daar ‘n ekstra energie by die spelers,” vertel Proudfoot.

“Teen die Valke moet jy die fisieke stryd wen, jy moet in hulle gesigte wees. As jy vir hulle tyd en spasie gee, gaan hulle jou flou hardloop. Wen of verloor wil ek sien dat ons ‘n goeie fisiese stryd voer,” verduidelik hy.

Dit is dalk ‘n moeilike dag om toeskouers by die Hoenderhok te kry, met die Bokke en Bulle wat albei Saterdag, 22 Junie in aksie is.

Die wedstryd tussen die Luiperds en die Valke skop 22 Junie, om 15:00 op Olenpark af.

 

Related Articles

 
Back to top button