SportSport

Tokkies maak eindstryd geskiedenis

Dit het Tokkies 10 jaar gevat, maar hulle is nou die provinsie se grootskole kampioene.

Die gesegde, altyd ‘n strooimeisie maar nooit ‘n bruid, kom op wanneer daar aan Tokkies se 1ste rugbyspan gedink word. Die Potchefstromers het al in vyf Luiperds grootskole eindstryde gespeel, maar kon nog nie een wen nie. Dit was tot Dinsdagmiddag omstreeks 17:00 toe die eindfluitjie in die eindstryd tussen Tokkies en Lahoff geblaas het. Tokkies het met 15 -5 as wenners uit die stryd getree en uiteindelik kon Tokkies die trofee lig. Dié span het ook geskiedenis gemaak deur die eerste span van Tokkies te wees wat die o.13A trofee wen. Volgens Jakkie van Vuuren, Laerskool Mooirivier se hoof, is die kompetisie in sy huidige formaat in 2014 ingestel. Dit het Tokkies 10 jaar gevat, maar hulle is nou die provinsie se grootskole kampioene. Dit het vroeg in die wedstryd gelyk of dit nog ‘n jaar van teleurstelling sou wees vir Tokkies toe Lahoff die eerste punte op die bord sit. Tog het die Potchefstromers nie teruggestaan vir hulle Klerksdorpse opponente nie. Hulle het twee drieë van hulle eie gaan druk en die Hoffies se foute uitgebuit. Hulle het hulle kanse pale toe benut wanneer dit vir hulle gegee was. Lahoff het tot hulle krediet nooit bes gegee nie, en het tot in die doodsnikke van die wedstryd aangehou om te veg vir ‘n oorwinning. “Ons het hard probeer, maar ongelukkig het ons nie ons geleenthede ten volle benut nie. Foute en oorywerigheid het ons geweldig baie gekos. Ons het te veel strafskoppe op die doellyn afgestaan, wat ons uit ons ritme gehaal het. Die seuns het hulle harte uitgespeel, en ons is baie trots op ons 1ste span wat ons skool se naam met trots verteenwoordig het. “Ons sien uit om hulle rugbyloopbane te volg. Baie geluk aan Mooirivier met die hardverdiende oorwinning,” het André Ouwencamp, afrigter van Lahoff na afloop van die wedstryd gesê. “Die karakter wat hierdie seuns getoon het was merkwaardig en toe dit die meeste saakgemaak het, het elkeen hand opgesteek en verantwoordelikheid geneem. Ons Tokkie harte bars van trots. Ons tema vir die jaar is GROOT, wat staan vir geloof, respek, omgee, ons kan en trots. Hierdie seuns het aan elkeen van hierdie waardes voldoen in ñ seisoen waar ons telkens moes opstaan en veggees toon,” het Jakkie van Vuuren, hoof van Tokkies, sy span geloof. Vir Johnny Warren, afrigter van Tokkies, was dit sy laaste wedstryd as breier. Hy sluit sy loopbaan op ‘n absolute hoogtepunt af. “If you want to achieve something you’ve never achieved before, you have to do something you’ve never done before’.”Dié woorde van Rassie Erasmus het ons as skool geïnspireer vir die 2024 seisoen,” het Van Vuuren afgesluit.

Related Articles

 
Back to top button