Sport

Dit is weer tyd: noord teen suid

Vanjaar is daar 'n ekstra angel in die rugbywedstryde, aangesien dié twee skole weer saam in dieselfde liga speel.

Die tyd van die jaar waar jy of blou of rooi of noord of suid is, het weer aangebreek. Dit is die FNB Classic Clash tussen Volkies en Gimmies wat soos oudergewoonte weer sport uit die boonste rakke gaan oplewer.
Vanjaar is daar ‘n ekstra angel in die rugbywedstryde, aangesien dié twee skole weer saam in dieselfde liga speel. Die rugbywedstryd tussen die skole se eerste spanne lok jaarliks byna die hele dorp. Dit is beslis die klimaks van al die sport wat plaasvind. Volgens Jacques Botes, hoofafrigter van Gimmies, verwag hulle ‘n taai, fisiese wedstryd.

“Ons is nie naïef oor wat op ons wag nie. ‘n Clash is maar ‘n ‘clash’,” het Botes gesê.

Gimmies het Saterdag, 11 Mei vir Randburg met 62- 24 gewen, wat beslis vir hulle goeie momentum gaan gee. Volkies aan die ander kant het ‘n loslootjie gehad en het beslis daardie tyd op die oefenveld benut. Daar is geen ernstige beserings by enige van die spanne nie. Albei spanne gaan vir kookwater rugby sorg.
“Ek dink ons is dalk die buiteperde in vanjaar se ‘clash’. Ons het ‘n af naweek gehad, so ons is lekker uitgerus. Ons sien baie uit om die mense hier in die Suiddorp te onthaal,” het Mighael de Beer, hoofafrigter van Volkies gesê. Sedert 2000 het die ‘clash’ 23 keer
plaasgevind. In 2020 en 2021 is die wedstryde weens die Covid-pandemie nie gespeel nie. Van die 23 kragmetings het Gimmies 12 gewen en Volkies het nege keer as wenner uit die stryd getree. Daar was slegs een keer waar die spanne gelykop gespeel het, en wel in 2009.

Related Articles

Back to top button