SportSport

Berts Bricks Atletiekklub se staatmaker leef sy passie met elke tree uit

Vir die afgelope 27 jaar is daar een konstante gesig by die Berts Bricks Atletiekklub wat sy passie vir hardloop en fiksheid uitleef.

Vir die afgelope 27 jaar is daar een konstante gesig by die Berts Bricks Atletiekklub wat sy passie vir hardloop en fiksheid uitleef.

Dit is niemand anders as Willie Ackerman wat tans die langste aktiewe klublid by Berts Bricks Atletiekklub is.

In die afgelope 27 jaar het Willie saam met die klub verskeie op en afdraandes beleef – amper nes die bulte wat atlete tydens ‘n Comrades Marathon beleef. Almal is nie altyd lekker nie, maar op die ou einde proe sukses net soveel soeter as die wenstreep bereik word.

Willie Ackerman, is die langste aktiewe lid van die Berts Bricks Atletiekklub, nadat hy alreeds in 1996 aangesluit het. Hier is hy met sy getroue drafkammeraad, sy hond, Elsie. Foto: Wouter Pienaar

Willie het sover ses Comrades Marathons voltooi waarvan hy al 10 aangepak het. Sluit al die ander wedlope en marathons deur die jare in en dan is dit ‘n hele paar kilometers wat hy agter sy rug het.

“Ek was nog altyd fiks gewees en hou daarvan om besig te wees. Ek het ook die 800 m en 1 500 m op skool gedoen. Ek het besluit om by Berts Bricks Atletiekklub in November 1996 betrokke te raak en hier is ek nog steeds. Ek het ook ‘n besering opgetel en vir die eerste paar jaar by die klub het ek so hinkepink gehardloop,” vertel Willie, wat ‘n ingenieurtegnikus by Transnet is.

Dit het nie lank gevat dat die Comrades gogga vir Willie byt nie en binne 6 maande as Berts Bricks klub atleet, het hy aan sy eerste Comrades Marathon in 1997 deelgeneem.

“Ek het in ‘n tyd van 10 ure en 35 minute klaargemaak. Dit op ‘n afwedloop, wat baie moeiliker is.

Daardie dae was die afsnytyd 11ure, so ek het dit maar dun gesny,” glimlag hy terwyl hy terugdink.

Willie noem dat die Comrades Marathon ‘n groot uitdaging is en raai mense aan om goed voor te berei en gesond te wees.

“Ek het al deelgeneem nadat ek griep gehad het en ek kon nie klaarmaak nie. Dit is belangrik om dit gesond aan te pak,” gee hy raad.

Een van die aspekte wat hy die meeste van Berts Bricks Atletiekklub geniet is die feit dat daar ‘n diverse kombinasie van mense, jonk en oud is, wat elkeen iets uniek na die klub bring.

“Hier bou ‘n mens vriendskappe en leer mense ken. Buiten die kompetisie en fisieke genot van draf, is dit juis die sosiale aspek en familie-aspek wat die klub besonders lekker maak,” vertel Willie.

Viervoetige vriende is ook nie-amptelik deel van die klub.

Willie gebruik die geleentheid om met sy hond, Elsie, te gaan draf, aangesien diere by die klub welkom is.

“Sy wil net een rigting gaan en dan hardloop sy al te lekker.”

Een van die groot byeenkomste van die klub is natuurlik die jaarlikse Great Brick Run. Vanjaar word die 40ste uitgawe op Saterdag, 20 Januarie by die Snowflake-gebou aangebied.

“Mense onderskat hulself jaarliks om met ‘n baksteen te draf. Dit maak dit ‘n regtige prettige element. Daar was al baie interessante stories van drawwers tydens die Great Brick Run. Party drawwers kom net so halfpad dan los hul die baksteen. Ek het al ‘n baksteen so opgetel en dan maak ek klaar met hom. Party maak sommer ‘n handvatsel vir die baksteen,” vertel hy.

Willie is ook vir die merk en meet van die roete verantwoordelik saam met Okkie Cilliers.

“Die roete het nie veel verander oor die jare nie, behalwe dat die wegspringpunt effens verander het van die rugbyklub na die Snowflake gebou,” noem hy.

“Ons sien uit na Saterdag se wedloop en glo dat dit weer ‘n geleentheid sal wees vir goeie kompetisie en om vriendskappe te bou so tussen die deelnemers. Ons wag vir julle!”

Related Articles

Back to top button