SportSport

Meestersatleet eindig loopbaan met vier medaljes

Vier medaljes op jou laaste byeenkoms is beslis die beste manier om vir die laaste keer jou atletiekskoene aan te trek.

Die bekende meestersatleet en oud-Volkie, Yolande du Toit, het haar 36 jaar lange atletiekloopbaan op ‘n gepaste wyse met medaljes by die Afrika Meesters Atletiekkampioenskappe afgesluit.

Du Toit het haar land met eer verteenwoordig by hierdie byeenkoms wat vanaf 16-18 November op die Pilditchstadion in Pretoria plaasgevind het.

Sy het met ‘n kniebesering gehardloop en steeds silwer in die 80 meter hekkies, brons in die 100 meter en goud as deel van die SA vroueaflosspan, en brons in die gemengde
afloskategorie behaal.

Vier medaljes op jou laaste byeenkoms is beslis die beste manier om vir die laaste keer
jou atletiekskoene aan te trek.

“Ek het nooit gedink dat die dag sal aanbreek wat ek my skoene moet ophang as gevolg van beserings nie. My hart is baie seer daaroor omdat atletiek my passie
is en ek dit geniet.

Dit was vir my ‘n groot voorreg om so lank te kon aanhou. Ek is dankbaar dat my Hemelse Vader vir so lank sy hand van beskerming oor my gehou het,” noem Du Toit.

Volgens haar was dit nie altyd maanskyn en rose om hard te oefen deur al die pyn
en trane nie. ‘n Spesifieke Bybelvers
(Filippense 4:13) het haar wel gedra:‘Ek is tot alles in staat deur Hom wat my
krag gee.’

“Met daardie versie het ek elke dag gaan oefen en ook aan kompetisies deelgeneem. Ek het sowat drie jaar gelede van afrigters verander en by Shaun Bownes se groep
aangesluit.

Hulle het my met ope arms ontvang en elke dag was ‘n seën om saam
met hulle te kon oefen,” sê Du Toit.

Du Toit bedank Bownes vir sy moeite, hulp en insette wat haar deurgedra het.
“Baie dankie ook aan al my vriende en familie. ‘n Spesiale dankie aan my man,
Natie du Toit, vir al die op en af ry met die byeenkomste. Niks was nog ooit vir jou te
veel nie.”

 

Related Articles

Back to top button