Ferdie as beste Noordwes skut van die jaar aangewys

In Augustus vanjaar is Marno Colyn by die NW proewe as die top skut van die jaar in die o.21-kategorie aangewys.

Vir die afgelope vyf jaar is Ferdies se skyfskietkampioen, Marno Colyn, op sy stukke in hierdie sport. Vanjaar is hy by die NW proewe as die top skut van die jaar in die o.21-kategorie aangewys, wat ‘n bewys is dat harde werk sukses bring.

Marno het van jongs af ‘n aanleg vir skiet en het met sy eerste ontmoeting met die sport in 2019 dit alreeds begin geniet.

“My ma het my vertel dat ek skyfskiet as sport by die Ferdies kan doen. Ek het besluit om dit ‘n probeerslag te gee,” vertel hy.

Marno Colyn is as die nommer skut in NW vir o.21 aangewys. Hier is hy saam met mnr. Herman du Plooy.

Hierdie skut vertel dat harde en gereelde oefen ‘n groot rol in sy prestasies speel.

“Ek sien nie net kompetisies as ‘n uitdaging nie, maar wil ook met elke oefening beter skiet. By Ferdies het ons ook twee uitstekende afrigters, Arno Combrink en Bets van der Vyver, gehad.”

Marno het twee jaar terug sy Top Gun 850/1000 punte mikpunt behaal vir skiet en hy sal graag wil voortbou hierop.

“Die volgende prestasie waarvoor ek mik is om 900/1000 te skiet by die SA kampioenskappe.”

Volgens hom moet ‘n goeie skut rustig wees en baie geduld hê.

“Nie elke skoot gaan val waar jy dit wil hê nie, so jy moet nie moed verloor nie, en net fokus op die volgende skoot. Een van die lekker voordele van skyfskiet is dat seuns en dogters op gelyke voet kan deelneem. Van die beste skuts is meisies. Om groot en sterk te wees maak jou nie ‘n goeie skut nie,” verduidelik hy.

Hanno, Richter Jansen van Vuuren en Marno Colyn is in die NW-span vir die SA Kampioenskappe opgeneem.
Exit mobile version