SportSport

Volkies se kliniese eerstes klop Gimmies met 169 lopies

Attie Liebenberg se 100 (74 balle) en Dian Liebenberg (4/26) met sy draaiballe lei Volkies se eerste krieketspan na 'n 169-lopie oorwinning in die Noordwes o.19A-liga.

‘n Briljante honderdtal van Attie Liebenberg, vegtergees van die lae middelorde en ‘n kliniese boulvertoning was die sleutels tot Hoër Volkskool Potchefstroom se 169-lopie oorwinning teen Potchefstroom Gimnasium in hulle o.19A krieketstryd vanmiddag (Saterdag, 2 September) op die Gimmie-Oval.

Volkies het die loot gewen en 291/8 in 50 boulbeurte aangeteken en toe vir Gimmies vir slegs 122 in 34.3 boulbeurte uitgeboul.

Kyk die verloop van die wedstryd in foto’s hier: (Foto’s: Wouter Pienaar)

Liebenberg, Volkies se aanvangskolwer, het 100 (74 balle en 16 viere) geslaan en sy span in die eerste 30 boulbeurte gedra, terwyl paaltjies om hom geval het. Dit was ook Liebenberg se tweede agtereenvolgende honderdtal.

Themba Sontjane (54 van 72 balle) en Kobus Pienaar (66 van 55 balle) het onder druk hulle staal gewys met ‘n 121-lopie vennootskap wat die wedstryd gedraai het.

In hierdie NW-ligastryd was sake vir die eerste twee ure baie gelyk met die wedstryd wat enige kant toe kon swaai.

Toe Pienaar instap was sy span in die moeilikheid op 155/7, maar toe hy van die veld stap het Volkies 291/8 op die bord en was in ‘n stewige posisie.

Gimmies het hul bes probeer om Volkies te stuit en kon in ‘n fantastiese posisie gewees het as hul nie vangkanse verbrou het nie. ‘n Kritiese oomblik was toe Caiden Seleka vir Liebenberg, wat toe op 30 was, op die grens misgevang het vanaf die boulwerk van Margeo Joubert.

Ondanks daardie kans, was Gimmies steeds in ‘n goeie posisie na Liebenberg vanaf die boulwerk van Marnu Cronje (3/38) gestonk is. Cronjé, wie Gimmies se beste bouler op die dag was, het ook die belangrike paaltjie van Ludwich Schuld vir 16 (17) geneem toe hy ‘n vangskoot van sy eie boulwerk benut het. Cronjé het ook vir Janco Moolman met ‘n fantastiese stuk veldwerk uitgehardloop.

Gimmies het geweet dat hulle ‘n fantastiese kolfpoging moes lewer teen ‘n sterk Volkie-boulaanval. Sake was bemoeilik toe Cronjé vir 15 (30) vanaf die boulwerk van Lunga May uitgevang is. Daarna het die draaier, Dian Liebenberg (4/26) sy merk gemaak en Caiden Seleka (10 van 13 balle) en Righardt Joubert 0 (1) met twee goue balle kleedkamer toe gestuur. Schuld het ‘n briljante vangskoot op glip benut om Seleka se beurt te eindig, terwyl Joubert been voor paaltjie betrap is.

Daarna het net Tommie Botha met 28 (60) en Ewald Kruger 29* (49) enige weerstand gebied. Toe Botha sy paaltjie met ‘n swak hou verloor was die koeël deur die kerk. Diaan van der Merwe (3/35) vanaf 10 boulbeurte was weer eens puik met sy draaiballe en saam met Liebenberg het hul sewe van Gimmies se 10 paaltjies geneem.

Gimmies sal terugkyk na verbroude kanse en dat hul nie Volkies se kolforde onder genoeg druk geplaas het nie.

Volkies sal nou weer terugkyk na ‘n wedstryd waar hul vasgebyt het onder druk en dit die weg gebaan het vir ‘n gemaklike sege.

*By die tweede spanne klop Volkies ook vir Gimmies met 15 lopies in ‘n senutergende wedstryd. Volkies word uitgeboul vir 127 op Mooivallei, maar kry dit reg om Gimmies tot 112 almal uit te beperk.

*Gimmies se o.15A span klop Volkies met 9 paaltjies by Volkies vir ‘n oortuigende sege. 

Related Articles

 
Back to top button