SportSport

NWU gaan hul beste moet uithaal teen Tukkies

NWU en Tukkies veg albei vir hul onoorwonne rekord vanjaar in Varsity Netbal

Die NWU se Varsity Netbalspan gaan hierdie komende Maandag, 4 September hulle grootste toets moet slaag wanneer hulle in Stellenbosch teen Tukkies te staan kom.

Die NWU het na vyf oorwinnings in vanjaar se Varsity Netbalkompetisie reeds gewys dat hulle beslis hul opponent studeer het en hul huiswerk gedoen het. Op die baan speel Elsunet du Plessis se span soos ‘n hegte eenheid en dit blyk of hul met elke wedstryd verbeter.

Hulle is gelykop met die onoorwonne Tukkies op die punteleer, albei op 20 punte. Al wat hul skei is die doelverskil van 19 punte.

Tukkies het juis met hulle 60-38 sege teen Maties bewys dat hulle een van die gunstelinge is om die titel vir die eerste keer sedert 2019 te wen.

Die NWU is in dieselfde asem ook een van die groot aanspraakmakers vir vanjaar se titel na hul Maties met 50-40 en Kovsies met 43-36 verlede naweek geklop het.

Die NWU het laas die Varsity Netbaltitel in 2016 verower en sal graag weer die trofee na Potchefstroom wil bring.

‘n Oorwinning teen Tuks sal grootliks bydra om daardie drome nog nader aan die realiteit te bring.

Die NWU steun vanjaar sterk om as ‘n eenheid te speel en dit kan ‘n mens op die hele baan sien. Voorlangs is Sunel Smit en Caitlin du Plessis ‘n gevaarlike kombinasie wat amper telepaties met mekaar komunikeer om die doele in te ryg.

Tlotlang Mokomela (aanvallende vleuel) en senter, Jomari Lubbe se distribusie en visie op die baan is ook een van die NWU se sterkpunte vanjaar.

Tlotlang Mokomela van die NWU in aksie.

Daar word baie keer genoem dat verdediging kampioenskappe wen. In dié stadium is Sanmarie Visser en Martiné Jordaan se posisionering en standvastigheid iets wat die NWU goed te staan kom om sy opponente se aanvalle te smoor.

NWU afrigter, Elsunet du Plessis noem dat daar ‘n baie goeie atmosfeer in die span is na die naweek se prestasies.

“Ons sien uit om weer baan te vat sodat ons onsself kan meet en gedissiplineerde netbal kan speel,” voeg sy by.

Sunel Smit van die NWU sink nog ‘n doel.

Tukkies se sterkpunte lê in ‘n gevestigde groep spelers wat ook al hulle talent by die USSA-kampioenskappe en die Telkom Netballiga bewys het.

Alice Kennon (doel), Phophi Nematangari (verdediger), Kamogelo Maseko (hulpdoel) en Kylie van Wyk (senter) is van Tuks se uitstekende spelers vanjaar.

Alice Kennon van Tuks is een van haar span se top spelers vanjaar. Foto: Catherine Kotze/C & C Photo Agency.

Die NWU het nog twee wedstryde oor in die groepfase teen die Madibaz (3 September om 19:00) en dan teen Tukkies (Maandag, 4 September om 19:00).

Die wedstryd teen Tukkies sal bepaal wie bo-aan die punteleer eindig.

Varsity Netbal Puntestand op 2 September 2023:

1. Tukkies – 20 punte

2. NWU – 20 punte

3. UJ – 14 punte

4. Maties – 12 punte

5. Kovsies – 8 punte

6. Wits – 5 punte

7. Madibaz – 5 punte

8. UWK – 5 punte

Related Articles

 
Back to top button