SportSport

Hoofde deel hulle boodskappe vir die Classic Clash

Mag elke deelnemer sy Godgegewe talent uitleef en elke oomblik geniet. Mag daar ook nuwe vriendskapsbande tussen opponente gesmee word – bande wat vir jare wat kom steeds sterk sal wees.

 

Mnr. Willie van der Merwe (Potchefstroom Gimnasium: Skoolhoof)

Mnr. Willie van der Merwe

“Min gemeenskappe het steeds die absolute voorreg om met twee kompeterende en presterende skole in dieselfde dorp te kan spog. Daarom is die kragmeting tussen twee vooraanstaande skole soos Gimnasium en Volkskool in Potchefstroom ‘n geleentheid wat gekoester moet word.

Ons twyfel geensins dat die intrinsieke trots en kompeterende aard van die leerders van die onderskeie skole sal verseker dat die wedstryde kliphard gaan wees, maar ook met die nodige wedersydse respek vir mekaar hanteer sal word.

Mag elke deelnemer sy Godgegewe talent uitleef en elke oomblik geniet. Mag daar ook nuwe vriendskapsbande tussen opponente gesmee word – bande wat vir jare wat kom steeds sterk sal wees. Die lewe is kort, leef dit; sport is lekker, geniet dit; vriendskappe is skaars, koester dit; woede is onnodig, los dit; herinneringe is soet, bewaar dit; respek is bemagtigend, verdien dit.

Ons wens is dat hierdie geleentheid ook die gemeenskap sal verenig in die meelewing en ondersteuning van ons skole en ons jeug. Ons erken die belangrike rol wat ouers, die sakesektor en die gemeenskap in ons skole speel. Mag die breër gemeenskap deurgaans ons skole koester, dra in hulle gebede en die belangrikheid van opvoedende onderwys besef en waardeer.”

 

Hoof se boodskap

Mnr Terry Nicholenas (Hoër Volkskool Potchefstroom: Skoolhoof)

Mnr. Terry Nicholenas

Daar waai twee vlae in die dorp: die vlae van Hoër Volkskool en Gimnasium. Hulle wapper sterk, want die wind voorspel net positiwiteit en goeie sportmangees deur ons dorp. Op hierdie lieflike herfsdag kan ek nie anders as om alles om my te bewonder nie. Voorwaar ‘n groot geskenk vanaf ons Vader. Dit is weer hierdie tyd van die jaar waar alle fokus skuif na een punt in die dorp, naamlik die sportveld. Dit voel soos gister wat ons die jaarlikse Volkie-Gimmie “Classic Clash” gehad het, en hier is dit weer. Die akkerlaning is blou en rooi versier, wat beteken dat die hele dorp by die wedstryde betrokke raak.

Vir die afgelope ses jaar het ek die voorreg gehad om deel te wees van die “Clash” en het ek die volgende opgemerk:

  • Hoe Potchefstroom deel word van hierdie belangrike deel van ons kinders se opvoeding,
  • hoe vriendskappe gebou word rondom die sportvelde,
  • hoe positiewe sportmangees ontwikkel en uitgeleef word,
  • hoe spelers hulle alles gee: vir hulle skool en onderskeie spanne.
  • Belangrik natuurlik: die spelers moet elke oomblik geniet.
  • Dat daar steeds maatskappye is wat belê in ons jeug, naamlik FNB. Dankie aan mnr Willem Meyer en sy hele span van FNB wat die dag borg.

Potchefstroom is ‘n dorp met ‘n ryk geskiedenis en daarom moet ons werklik trots wees op die twee Afrikaanse skole in die dorp. Dit is van uiterste belang vir die voortbestaan van ons taal en kultuur in Potchefstroom. Daarom versoek ek dat daar ‘n derde (simboliese) vlag gehys sal word, naamlik die vlag van Afrikaans as onderrigtaal.

My wense vir die dag: Mag Liewe Jesus afkyk na ons almal en glimlag, want Hy is gelukkig met wat hier gebeur. Mag die gesonde kompetisie geseënd wees en mag almal weer as vriende uitmekaar gaan. Dat alle spanne ‘n goeie sportmangees sal openbaar. Jong dames en jong manne van elke skool: “Jy mag nooit jou talente onder ‘n maatemmer wegsteek nie.” Ek gaan dit verseker baie mis en sal steeds ‘n “brokkie van my hart” hier los.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button