Potchefstromer jaag drome na by uitdagende Simola Hillclimb

Agter die stuur van sy Nissan GT-R (R35) sportmotor wys Johan van den Berg sy spoed met 'n tyd van 48.08 sekondes.

Om teen ‘n gemiddelde spoed van 200 kilometer per uur, 13 uitdagende draaie op ‘n opdraende 1.9 kilometer baan aan te vat sit nie in enige mens se skoene nie.

Die Potchefstromer, Johan van den Berg (51), was een van 84 renjaers, uit ‘n kortlys van 500 aansoeke, wat uitgenooi is om aan die wêreldbekende Simola Hillclimb in Knysna deel te neem.

Hierdie naweek van pure spoed en vreesloosheid wat vanaf 5-7 Mei plaasgevind het, is iets reg in hierdie motorsport-entoesias en renjaer se kraal.

“Dit was nog altyd iets wat ek wou doen, vandat ek dit die eerste keer as ‘n toeskouer in 2018 bygewoon het. Dit was ‘n droom wat waar geword het en op my Bucket list, maar nou wil ek dit elke jaar doen en my tye verbeter,” vertel Johan met glimlag.

Agter die stuur van sy Nissan GT-R (R35) sportmotor, ‘n 50ste verjaarsdagpresent van sy vrou, Lizelle, wys Johan sy spoed en voltooi die baan in 48.08 sekondes. Sodoende bereik hy sy doelwit om die baan onder 50 sekondes te voltooi. ‘n Kersie op die koek was dat hy algeheel 24ste uit 84 deelnemers geëindig het – glad nie sleg vir ‘n debutant nie.

By Simola is elke milisekonde kosbaar en kan die verskil tussen ‘n nuwe persoonlike beste tyd of ‘n ‘kom weer en probeer volgende jaar’ wees.

Johan van den Berg gereed om die Simola Hillclimb in sy Nissan GT-R (R35) aan te pak.

“Daar is nie baie speling vir foute nie, omdat daar nie baie barriers is nie. ‘n Mens wil ook nie beheer oor jou kar verloor nie, anders is jy van die berg af of teen die berg. Professionele renjaers kan bekostig om nog hulle motors te stamp, maar ek moes mooi ‘n balans kry om vining te ry sonder om te aggressief te wees. Die risiko is definitief daar,” vertel Van den Berg.

Vanjaar se Simola Hillclimb het ook ‘n paar internasionale sterre ingesluit soos die voormalige tydrenjaer en 2003 Wêreldkampioen, Petter Solberg (Noorweë), sowel as die oud Formula 1-renjaer, Mika Salo van Finland.

Johan het dus saam met die groot kanonne van motorsport die baan gedeel.

“Met my deelname aan die Simola Hillclimb het ek net weer besef hoe belangrik dit is om jou eie drome na te jaag. Ek sê altyd mens is die CEO van jou eie lewe.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version