James Small se voetspore lê langs die Fanie du Toit-sportgronde se kantlyn

In sy swart baadjie, wit hemp en swart das het hy die kantlyn soos ʼn beneukte sersantmajoor gepatrolleer. Sy passie daar vir die hele wêreld om te aanskou.

Hy het sy hart op sy mou gedra. Vreesloos. Kort humeur. Emosioneel. Stoute derduiwel. Pierewaaier. Kapokhaan van formaat.

Hy was berug.

Joernaliste het sy manewales soos soetkoek opgevreet en dié begaafde vleuel het dit met oorgawe opgedis.

James Terence Small. 47 toetse. 20 drieë.

Die eerste Suid-Afrikaner wat met ʼn kaart van die veld gestuur is. Dit was 1993 en Suid-Afrika meet kragte met Australië. Boesemvriend en skrumskakel Robert du Preez word deur die Engelse skeidsregter, Ed Morrison, gestraf en die besoekers is nie gelukkig met die besluit nie. Al wat Groen-en-Goud is blêr terug, met James die voorbok. Trekpas koelkas toe vir hom.

Twee jaar later en hy word saam met die Springbokspan wat Nieu-Seeland in die eindstryd van die 1995 Wêreldbeker klop as nasiebouers verewig.

“Hy was ʼn karakter en hy het ʼn teenwoordigheid in die span gehad. Hy het nie baie van reëls en spankodes gehou nie, maar hy kon jôl en sy selfvertroue was aansteeklik,” vertel Leon Boshoff, Small se spanmaat by die Cats.

Small se vleuelmaat by die Leeus en Springbokke kom aan die beurt: “Ek was bevoorreg om saam met ʼn paar bitter talentvolle spelers te speel,” vertel Pieter Hendriks, wie se omhoogde, gebalde vuis nadat hy om David Campese in die openingswedstryd van die 1995 Wêreldbeker gehardloop het ʼn ikoniese beeld is.

James Small in sy speeldae vir die Springbokke.

Die laaste aangee van die beweging voordat dit in Hendriks se gretige hande beland het, het van Small gekom.

“James was maar James,” vertel Hendriks met ʼn lag. “Wat hy gesê het, het hy gedoen. Hy was nie ʼn te filosofiese ou nie, hy het vir die oomblik geleef. Hy was ʼn vurige karakter.”

Tóé leer die Noordwes-Universiteit (NWU) en Potchefstroom hom ken.

Tussen 2013 en 2014 word hy as hulpafrigter onder einste Robert du Preez by die NWU en die Luiperds aangestel. In sy swart baadjie, wit hemp en swart das het hy die kantlyn soos ʼn beneukte sersantmajoor gepatrolleer. Sy passie daar vir die hele wêreld om te aanskou.

James Small tydens sy dae as NWU Varsitybeker, hulpafrigter in 2014. Foto Mario van de Wall/SASPA

Dit is ook hier waar hy ʼn ou bondgenoot weer raakgeloop het.

“My paaie met James het by die Rooibokke onder Harry Viljoen (voormalige Springbokafrigter) gekruis. My ma en James se ma het altyd saam ons rugbywedstryde op die pawiljoen gesit en kyk. Ek dink Harry het vir James die speler gemaak wat hy sou word. Hy het hom nie in ʼn boksie gesit nie, hy het sy flair laat leef,” sê Hendrik Truter wat op heelagter saam met vleuels Small en Pieter Hendriks later vir die Leeus uitgedraf het.

Truter het ook as ʼn bemarker vir die NWU se Rugbyinstituut gedien en was die hoof-ghoeroe agter die aanbieding van die NWU se tuis Varsitybekerwedstryde.

“Ek kry skoon hoendervleis as ek oor daardie agterste driehoek saam met Pieter en James gesels. Drukkoker-situasies het die beste uit hom gebring. Hy sou skree: ‘Bring die bal!’. Elke Saterdag was hy 100% aangeskakel, reg om te gaan.”

Tog het hy sy heelagter se hulp some nodig gehad om meer as net lugballe en stormram-aanvallers te trotseer.

“In sy beginjare was hy bekend daarvoor dat hy niks van vlieg af gehou het nie. Op vlugte het hy altyd langs my kom sit en ek dink sy vingernaels is steeds in my voorarms ingegraveer,” skerts Truter.

Mervyn Taylor, bestuurder van die Rugbyinstituut, skroom nie om Small se waarde in sy tyd by die NWU uit te wys nie:

“James was een van die ouens wat ek die gouste by ons sisteme en binne ons kultuur sien aanpas het. Hy het dadelik wonderlike verhoudings met ons spelers gebou en hy was ongelooflik lojaal.”

James Small was ‘n integrale deel van die NWU se Varsitybekerspan in Potchefstroom as deel van die afrigtingspan.

Op 10 Julie 2019 het Small al sy lewe opgeleef. Hy is aan ʼn hartaanval op die ouderdom van 50 oorlede. 10 Februarie sou sy verjaarsdag gewees het.

Hier laat in die 1990s word Small aangehaal waar hy sê sy ambisie is om eendag “ʼn voetspoor en nie ʼn voetnota” te wees nie. Het hy maar toe al geweet die wêreld sal’ie James Small vergeet nie…

En as jy hom soek, as jy naby dié eiesinnige, pretmaker self wil wees, dan kry jou jouself in Potchefstroom. En as jy in Potch is, dan soek jy Thabo Mbekistraat. Ry op in hom, noord, sê-nou-maar dam se rigting. By Loopstraat draai jy regs. Voor jou is die Fanie du Toit-sportterrein. Nou stap jy hoofpawiljoen toe en jy stop voor hom. Kyk hom in die gesig. Aan jou regterkant is daar ʼn trog, ʼn sloot langs die kantlyn af. Jy kan hom net sien as jy jou oë toe maak. James het hom uitgeloop.

Dit is ook waar sy voetspore lê.

Exit mobile version